6 renosterverdagtes in 2 maande gearresteer

LEPHALALE — Drie renosterstroping-verdagtes, waarvan een lank reeds deur die SAPD se Bedreigde Spesies-eenheid gesoek word, is onlangs gearresteer. Dit bring die aantal arrestasies vir renosterstroping op ses gedurende die laaste twee maande.

Volgens adjudant-offisier Jurg van Heerden, hoof van die Bedreigde Spesies-eenheid, het hulle Dinsdag 22 September inligting vanaf informante ontvang dat daar ʼn verdagte groep op pad is na die Steenbokpan-omgewing om renosters onwettig te jag.

Nuwe inligting het aangedui dat twee voertuie Sondag 27 September op pad is en die voertuie is van die pad af gedwing toe hulle Vaalwater binnery. Die twee verdagtes wat in ʼn wit Chevrolet-bakkie gery het, Amerco Monjana (41) en Chris Chivhambo (26), is gearresteer gedurende ʼn gesamentlike operasie deur die Bedreigde Spesies-eenheid, Welgevonden Reaksie-eenheid, SANParke en HPG. Beide verdagtes is Mosambiekse burgers.

Die bakkie is deursoek en een .375-jaggeweer met vyf .375-rondtes, ʼn groot jagmes en ʼn knaldemper was in verskillende dele van die bakkie versteek. Daar is beslag gelê op die bakkie en Monjana en Chivhambo het Dinsdagoggend 28 September in die Landdroshof in Modimolle verskyn op aanklag van die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie asook sameswering om ʼn misdaad (renosterstroping) te pleeg.

Die derde persoon wat in die ander voertuig was, is Lazarus Chauke. (Die fabrikaat van die ander voertuig word weerhou aangesien dit die ondersoek kan benadeel.)

Volgens ao. Van Heerden word Chauke reeds ʼn geruime tyd deur die Bedreigde Spesies-eenheid gesoek. Hy het ook ʼn uitstaande lasbrief tot arrestasie teen hom en word reeds positief verbind met ʼn saak van renosterstroping in die Hoopdal-area (Hoopdal MAS 20/1/2020) waar hy in Limpopo ʼn renoster onwettig gejag en sy horings verwyder het.

Chauke het Maandag 27 September in die Landdroshof in Thabazimbi verskyn en die saak is uitgestel tot Donderdag 8 Oktober vir ʼn formele borgaansoek hy bly in aanhouding.

Die ondersoeke duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.