7 vas na Melkrivier-aanval

MELKRIVIER — Sewe verdagtes is gearresteer in verband met die huisroof en plaasaanval op Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys op die plaas Oversprong in die Melkrivier-omgewing op Dinsdag 6 Februarie vanjaar.

Twee verdagtes is Donderdagnag/Vrydagoggend 16 Februarie gearresteer nadat inligting deur die polisie ontvang en opgevolg is.

Maandag 19 Februarie is nog vyf verdagtes gearresteer. Twee is gearresteer in Soshanguve en drie in Phagameng naby Modimolle. Die derde verdagte, ʼn Mosambiekse burger, is deur Modimolle SAPD aangekeer en volgens inligting het hy voorheen tronkstraf uitgedien vir renosterstroping.

Die arrestasies is gemaak deur lede van die Heritage Protection Group (HPG), ʼn privaat misdaadbestrydingsgroep, Lephalale Trio Taakspan asook lede van Modimolle SAPD.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale Kluster, is geweerslotte en ammunisie wat gebruik was in die aanval deur die polisie teruggevind. Twee ongelisensieerde vuurwapens en ʼn knaldemper en verskeie selfone is ook gekonfiskeer.

Ses verdagtes het Maandag en Dinsdag, 19 en 20 Februarie, in die Landdroshof in Modimolle verskyn en die sake is uitgestel na 1 Maart. Die sewende verdagte kon nie noodwendig met die voorval verbind word nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.