8 A’s vir Cheranté!

LEPHALALE — Cheranté Snyman is Hoërskool Ellisras se topmatriek vir 2017. Sy behaal agt onderskeidings in Afrikaans (81%), Engels (81%), wiskunde (95%), lewensoriëntering (93%), lewenswetenskappe (91%), fisiese wetenskappe (94%), rekeningkunde (90%) en ʼn ongelooflike 88% in Gevorderde Program Wiskunde (GPW).
Cheranté gaan vanjaar Chemiese Ingenieurswese studeer aan die Noord-Wes Universiteit.
Sy sê die belangrikste les wat sy deur haar skoolloopbaan geleer het is om vriendelik te wees met almal – veral met die mense wat nie vriendelik met jou is nie. “Hulle het dit die meeste nodig,” sê sy.
“Moenie oor onnodige goed kwaad bly nie, die lewe is te kort vir sulke nonsens. Maak vrede en beweeg aan. En onthou, ‘it ain’t over until I win’,” sê dié slimkop wat duidelik ook lewenswysheid het.
Sy wens vanjaar se matriekgroep baie sterkte toe vir die jaar wat voorlê. “Jy gaan vir seker keelvol raak vir al die werk en eksamens, maar byt net vas. Jy sal later besef dat dit alles die moeite werd was. Moenie bekommerd wees as jy teen die einde van die jaar nog steeds onseker is oor wat jy wil gaan doen nie – bid daaroor, die Here sal vir jou die regte antwoorde op die regte tyd gee,” sê sy.
Cheranté bedank die Hemelse Vader vir haar talente asook haar ouers wat haar nog altyd (en veral) die afgelope jaar ondersteun het. “Dankie ook vir my broer wat my gehelp het om so bietjie te ontspan”.
Dié appel val nie ver van die boom af nie. Haar ouers, Frikkie en Isabel, is albei rekenmeesters by S&O Rekenmeesters/Accountants. Frikkie is ook ʼn direkteur by die maatskappy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.