8 vlakvarkkarkasse, 7 honde, 4 verdagtes

IMG-20160718-WA0023

Leoni Kruger
LEPHALALE — Lephalale Polisie het Saterdag 16 Julie ‘n groot slag geslaan toe hulle op drie verdagtes, sewe jaghonde, agt vlakvarkkarkasse (waaronder drie trofeegehaltediere) en die bestuurder van ‘n verdagte voertuig afgekom het.
Volgens Neels Alant van die plaas Grootgenoeg buite Lephalale het sy buurman se werker eerste onraad vermoed toe hy Saterdag in die vroeë oggendure honde hoor blaf het. ‘n Verdagte voertuig wat in die omgewing op en af gery het, het hulle vermoedens versterk dat daar ongerymdhede op die plaas is. Alant sê toe hulle boonop ‘n vlakvarkkarkas in ‘n boom sien hang was hulle seker dat daar onwettig op die plaas gejag word. Die verdagte voertuig (‘n Corsa-bakkie) is van die pad af getrek en bloed aan die agterkant van die voertuig het bevestig dat daar wildstropers op die plaas is. Lephalale Polisie is na die plaas ontbied.
Alant praat met lof van die polisie se optrede nadat hulle daar aangekom het. Konstabel Baloyi en – Sekgoele het die bestuurder van die Corsa ondervra nadat hulle inligting ontvang het en om 11:00 Saterdagoggend is drie verdagtes gearresteer, sewe jaghonde is ingeneem en daar is beslag gelê op agt vlakvarkkarkasse. Die bestuurder van die voertuig is ook gearresteer.
Volgens Alant is dit die derde soortgelyke insident op sy plaas en een van vele in die omgewing en die wildboere beskou hierdie arrestasie in ‘n baie ernstige lig, aangesien dit baie moeilik is om stropers vas te trek. “Die mense het 50 treë van my huis af geloop, dit wys jou net hoe gemaklik hulle al is dat hulle nie gevang gaan word nie. Dit help nie hulle betaal elke keer ‘n skulderkenningsboete en stap daar uit net om weer dieselfde misdaad te pleeg nie” sê hy.
Die verdagtes het Maandag 18 Julie in Lephalale Landdroshof verskyn en elk is uit op borgtog van R1 000.
‘n Wilddiefstalsaak is geopen per 151/07/2016.
Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, is die honde na Lephalale dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem waar daar na hulle omgesien word. Die voertuig is in beslag geneem en is tans by die polisiestasie en sal blykbaar nie aan die verdagtes teruggegee word nie, aangesien dit deel was van die misdaad. A.o. Mokoena sê dit is onwaarskynlik dat die oortreders net skulderkenning sal betaal en vrygelaat word, veral omdat een van hulle reeds soortgelyke vorige oortredings het.
Die saak is uitgestel tot Dinsdag 2 Augustus wanneer hulle weer in die Lephalale Landdroshof sal verskyn.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.