Aangeval en geskiet

Chrisca Pienaar (69) in  Montana Hospitaal
Chrisca Pienaar (69) in Montana Hospitaal

VAALWATER — ‘n Bekende inwoner van Vaalwater, Chrisca Pienaar (69), is Vrydagmiddag 1 April omstreeks 12:30 by haar huis op die plaas Waterval, tussen Vaalwater en Modimolle, aangeval en geskiet.
Twee mans – sy het die een herken as iemand wat voorheen by haar stukwerk gedoen het, het Chrisca in haar huis oorrompel, vasgebind en in die spens aangehou.
“My ma sê hulle het die hele tyd gevra vir die kluis se sleutel, maar sy het gesê die sleutel is by haar man, Dick, wat nie op daardie stadium tuis was nie. Die twee verdagtes het gesê hulle sal wag, want hulle soek wapens en kontant. My ma het vir hulle gesê daar is nie kontant in die kluis nie, maar hulle het gewag” het Tasha de Beer, die Pienaars se dogter, vir die Mogol Pos gesê.
Volgens Chrisca het die twee verdagtes begin rondsnuffel om te kyk wat hulle nog kan steel en sy het haarself losgewoel en probeer ontsnap, maar hulle het haar gesien en na ‘n gestoei stywer vasgebind en in die stort laat sit.
Volgens Tasha het die verdagtes gedreig om haar ma met die warm water te brand, maar die sonpaneel-geyser het tot haar redding gekom. Hulle het dit later laat vaar. Sy sê hulle het ook toiletpapier en lappe in haar ma se mond en ore gedruk sodat sy nie kon skree nie en niks kon hoor nie.
Chrisca het haarself mettertyd weer losgewoel en saggies by die badkamer uitgesluip. Toe sy besef dat die verdagtes nie op daardie stadium in die huis was nie, het sy haarself in die hoofslaapkamer toegesluit en die haelgeweer uit die kluis gehaal. Sy het, geweer in die hand, die huis se deure begin sluit met die voordeur laaste.
“Ek was baie versigtig want ek het besef dat hulle my handwapen en Dick se .22 geweer, wat beide in die slaapkamer was, gevat het.”
Tasha sê volgens haar ma was die twee verdagtes op daardie stadium in die motorhuis doenig, maar een het haar gesien toe sy die voordeur toeklap en sluit en hy het dadelik daarheen gehardloop. (Dit was die een wat voorheen stukwerk gedoen het.) Hy het haar blykbaar probeer oortuig om die deur weer oop te maak en vir haar gesê dat hy nie eintlik deel van die komplot was nie en dat sy hom moet help deur hom in die huis te laat inkom. Hy het ook gesê dat hy ‘n wapen vir haar sal teruggee as teken dat hy haar goedgesind is, sê Tasha, maar toe sy die wapen by hom wou neem het hy ʼn skoot afgevuur wat haar reg agteroor op die grond laat val het.
Beide verdagtes het blykbaar hierna weggeharloop en nie weer by die huis probeer inkom nie.
Chrisca het na die huistelefoon toe gekruip en vir Dick geskakel en Christo Venter, voorsitter van die Vaalwater polisiëringsforum (GPF) is geskakel vir hulp.
Christo sê hy het onmiddellik al die lede van die Vaalwater GPF laat weet dat daar probleme is by die Pienaars en dat hulle hulp nodig het want Chrisca is geskiet. Dit was net na 13:00.
Willem Crause, deel van die GPF, was byna by die Pienaargesin se hek toe hy die radioroep ontvang en hy het dadelik ingery. “Ek het by die plaaseienaar, Koos van der Merwe, gestop en ons twee is saam na die Pienaars se huis. Gelukkig kon Chrisca dit regkry om die deur vir ons oop te maak, maar ons het besef beide verdagtes is weg” sê Willem.
GPF-lede van die omgewing – Modimolle, Vaalwater, Alma en Swaershoek – is gekontak om paaie te begin afsper en helikopters in die lug te kry. Sakkie Lourens van die Heritage Protection Group (HPG) sowel as die polisie is ook gekontak en volgens Willem was hulle almal vinnig op die toneel. Willem sê daar was binne ‘n kort tyd sowat 100 GPF-lede en drie helikopters aktief by die soektog betrokke. Die twee verdagtes is Vrydagaand rondom 22:00 in Alma gearresteer. Die een is in ‘n kuierplek gearresteer en die ander in ‘n voertuig. “Ons het ʼn 6.35 handwapen, Chrisca se selfoon asook gesteelde goedere teruggekry,” sê Sakkie Lourens. Hy sê die .22 geweer is agter ‘n muur by die Pienaarwoning versteek gekry.
Volgens kolonel Otto, Limpopo SAPD woordvoerder is die arrestasie gemaak deur ʼn speurder en stasiebevelvoerder van Rankinspas polisie in samewerking met Sakkie Lourens en die span van die Heritage Protection Group. Volgens kol. Otto het die twee verdagtes Maandag 4 April in die hof verskyn.
By navraag van die koerant het dit Maandag 4 April reeds heelwat beter gegaan met die 69-jarige Chrisca. Dokters van die Netcare Montana Hospitaal in Pretoria het egter besluit om nie die koeël te verwyder nie.
Sy was teen druktyd steeds in die hoësorgeenheid van Montana Hospitaal.
Die koeël, wat tussen die ken en die sleutelbeen in die nek in is, het meeste van die bene gemis, maar het wel skade aan die linker bladbeen aangerig en is tans gevestig in ‘n senupunt in die bladbeen. Die rondte het die twee gaatjies aan die bo-kant van die linkerlong veroorsaak, maar volgens die familie glo die spesialiste dat hierdie long self sal herstel.
“Dit is net ʼn wonderwerk dat my ma so min seergekry het en ons dink verseker dat die Here haar in hierdie moeilike tyd beskerm het. My ma sê self dat sy deurgaans kalm gebly het, kalm gedink het aan planne om weg en los te kom en ook rustig met die verdagtes kon redeneer het,” sê Tasha de Beer.
In nog ‘n plaasaanval in Limpopo Vrydag 1 April is Henning Joubert (53) en sy vrou omstreeks 12:00 in hulle plaashuis in die Rooikraaldam-gebied, sowat 35 km vanaf Groblersdal op die pad na Stoffberg oorval.
Volgens Sakkie Lourens van HPG is Joubert oorrompel toe hy die huis oopsluit en hy is verskeie kere met ‘n mes gesteek. Hy is reeds in die huis dood aan sy wonde.
Sy vrou is nie in die aanval beseer nie en het een van die aanvallers gewond. Dié aanvaller is op die toneel gevind.
Die ander verdagte was ‘n tuinwerker van die gesin en hy is by die werkershuise op die plaas gearresteer. Skoene met bloedspatsels is by hom gevind.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.