Aasvoël vrek

— ongeag fietsryers se ingryping

Blouberg-aasvoël (C271) saam met een van die hanteerders na hy oorlede is
Blouberg-aasvoël (C271) saam met een van die hanteerders na hy oorlede is

Ria Wells
LEPHALALE — ‘n Blouberg-aasvoël (C271) wat deel is van die moniteringsprojek in Vivo, het die lang pad aangedurf na Lephalale waar fietsryers dit in die pad tussen Medupi en Onverwacht opgemerk het.

 Elize Grobler van Exxaro was oplettend genoeg om te besef dat die voël nie gesond is nie. Sy het ‘n foto geneem en dit op Facebook geplaas vir bewaringsaktivis, Marthie Scheepers se aandag, met die woorde: “Marthie, jou aasvoël soek jou”. Elize het vir Tjaart van der Walt van Exxaro gekontak wat die voël gevang en aan die DBV oorhandig het. Hulle het dit na die staatsveearts se kantore geneem waar Nicolene Nel dit versorg het. Johan van Wyk, bestuurder by Blouberg Natuurreservaat naby Vivo, het aan Marthie bevestig dat dit sy Blouberg-baba is.
 Volgens hom het hy C271 na ‘n kort periode van rehabilitasie op 6 Januarie vrygelaat. Dit was volgens Johan ‘n jong voël van 2015 se broeiseisoen wat tydens ‘n reënstorm uit die nes by die Bloubergkranse geval het. Die plaaslike gemeenskap waarmee die reservaat ‘n samewerkingsooreenkoms het, versamel jaarliks die jong aasvoëls en oorhandig dit vir rehabilitasie. Die reservaat skenk ‘n bedrag geld om te voorkom dat die voëls in die moetie-mark beland.
 Tydens vrylating word die voëls voorsien van ‘n metaalring en vlerkplaatjies om uitkenning moontlik te maak. Dit is deel van ‘n landswye projek en die gemeenskap word aangemoedig om dit onmiddellik te rapporteer indien hulle op ‘n gemerkte voël afkom. Indien moontlik moet die plaatnommer, lokaliteit, datum en aktiwiteit deurgegee word aan die Trust vir Bedreigde Natuurlewe.
 Met Johan se aankoms in Lephalale op Dinsdag 19 Januarie om C271 op te laai, was die voël reeds dood. Die simptome het daarop gedui dat C271 weens ‘n vergiftigingsinsident dood is – ‘n aangeleentheid wat ten hemele skree aangesien dié spesie en ander aasvoëlspesies uiters bedreigd is. Juis om dié rede word daar groot moeite gedoen met elke aasvoël wat by die reservaat aankom. Daar is tans minder kransaasvoëls as wit renosters oor in Suider-Afrika en dit sal goed wees as die fokus eweneens so sterk op die bewaring van aasvoëls geplaas word.
 Mogol Pos bedank Johan en Marthie wat die moeite gedoen het om ‘n draai by die kantore te maak ter bewusmaking van ‘n uiters belangrike saak!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.