Afgunsvroue hou partytjie

AFGUNS — Die vroue van die Afgunsgemeenskap het Vrydag 20 November vir Jelena Skinner ’n verrassingspartytjie vir haar verjaarsdag gehou. Jelena is Robert Skinner, voormalige voorsitter van die Afgunsgemeenskap, se vrou. Sy is afkomstig van Oos-Europa en haar ouers woon steeds in Bosnië.

Die inisiatief vir dié welwillendheid teenoor Jelena is aangevoer deur Johannie van Zyl en Lynette Barnard. Jelena en hulle twee seuntjies moet baie keer alleen by die huis agterbly wanneer Robert (in die dag of nag) uitgeroep word na noodsituasies. Hy is ook die persoon wat noodsaaklike veiligheidsvergaderings bywoon as verteenwoordiger van die Afguns-wyk. Hulle woon op ’n verafgeleë plaas in die Kuipersbultpad-omgewing.

Volgens Lynette was die positiewe reaksie van die Afgunsgemeenskap se vroue oorweldigend en hulle samewerking inspirerend.

Almal het deelgeneem aan die versoek om vir Jelena ’n verjaarsdaggeskenk te gee, selfs al kon van hulle nie die vieringe bywoon nie.

Die partytjie was vir Jelena ’n groot verrassing. “Haar totale verbasing het ons almal geraak en ons weet ons het haar hart baie bly gemaak,” sê Lynette.

Meer oor die Afgunsgemeenskap:
Die gemeenskap het tans nie ’n formele bestuur nie.

Robert was vir twee jaar voorsitter van die wyk, maar dien tans as koördineerder van die Afguns/Matlabas Plaaswag met Hennie van Deventer as voorsitter van Matlabas-Noord.

Die doel en visie is om die Afguns-area so veilig as moontlik te maak deur die ry van patrollies, ’n kameranetwerk en om die reakiespan beter op te lei en toe te rus.

Die gemeenskap bestaan uit 40 lede en elke lid het hulle eie veiligheidsradio’s. Daar is ook vier radio’s wat aan die gemeenskap behoort indien daar mense is wat nie hulle eie radio’s het nie.

Die gemeenskap bedank die volgende mense:
• Marthinus Schoeman, George du Toit en Lourens Prinsloo, wat die hele gemeenskap in die verlede bygestaan het met vinnige en parate optrede in verskeie noodsituasies – onder andere vier plaasmoorde wat in dié omgewing plaasgevind het.
• Dries van der Walt wat die gemeenskap in alle opsigte agter die skerms bystaan.
• Die vroue wat, soos Jelena, alleen agterbly, wanneer hulle mans die gemeenskap bystaan.

’n Fondsinsameling word beplan vir vroeg aanstaande jaar. Die fondse sal gebruik word vir beter toerusting en opleidingsgeleenthede vir die reaksiespan.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.