AfriForum in Lephalale

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 16 Maart 2017 ’n tak en ‘n buurtwag in Lephalale gestig. Mense het reeds van 17:00 opgedaag om te hoor wat AfriForum vir die gemeenskap kan beteken.
Volgens Johan Weber, AfriForum Streekshoof in Mpumalanga, Limpopo en Kwazulu-Natal, is die besluit geneem nadat verskeie gemeenskapslede aangedui het dat daar ‘n behoefte aan ‘n AfriForumtak en –buurtwag is.
Weber het verder verduidelik dat enige persoon by AfriForum kan aansluit mits jy hulle missie en visie ondersteun.
“As jy nie veilig voel in jou eie huis nie, beteken dit daar is fout” sê hy. Hy het ook gesê daar is nie genoeg struktuur in Lephalale vir die jeug om hulle gesond uit te leef nie. “Ons moet na die jeug omsien want dit is ons toekoms”.
Hy het ook verduidelik dat die munisipaliteit ‘n verpligting teenoor die gemeenskap het om te sien dat dinge reg loop. “Munisipaliteite vermors baie keer geld op minder belangrike dinge en mens kan nie met elke klein dingetjie hof toe hardloop nie, maar AfriForum kan jou help”. Hy het Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, aangehaal: “dis nie volhoubaar om in die pad van agteruitgang te staan nie, dis tyd om te bou aan die pad van vooruitgang”.
Die takbestuur is uit die gemeenskap verkies en hulle is Aldo Venter (voorsitter), Chris van der Westhuizen (ondervoorsitter) en Connie Gouws (sekretaris).
Plaaslike regeringsake sal deur Connie Gouws en komiteelede Gert du Plessis, George Minnaar en Thinus Grobler behartig word. Omgewingsake is die verantwoordelikheid van Kobus Roux en komiteelede Jacques de Lange, Corné Oosthuysen, Elsabe de Klerk en Braam van der Linde. AfriForum Jeug in Ellisras val onder Hennie Badenhorst en komiteelede Doret Jacobs, Jaco Jacobs en Leonard Joubert.
“Ek glo dat die stigting van ’n AfriForum-tak in Lephalale ’n keerpunt in die geveg teen munisipale wanbestuur en misdaad is. Die Lephalale Plaaslike Munisipaliteit het volgens die ouditeur-generaal se 2014/2015-verslag byna R50 miljoen onregmatig spandeer en moet daarom tot verantwoording geroep word,” het Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo afgesluit.
Die buurtwagbestuurspan bestaan uit George du Toit (voorsitter), Delyse Venter (sekretaris) en Chris van der Westhuizen (operasionele voorsitter).
“Ek is trots om deel te wees van ’n organisasie soos AfriForum wat ’n verskil in die lewens van hul lede maak. Ek doen ’n beroep op die gemeenskap van Ellisras om by die plaaslike AfriForum-tak en die buurtwag aan te sluit,” sê Aldo Venter, voorsitter van AfriForum se Lephalaletak.
SMS “Ellisras” na 45340 om betrokke te raak. SMSe kos R1 elk.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.