Afvlerkmossie vind ‘n huis

Die pragtige Renette

Ria Wells
LEPHALALE — Renette van Wyk is die oudste van twee dogters van die bekende pastoor Attie van Wyk en sy vrou Gerda. Sy sê as pastoriekind was dit nie altyd maanskyn en rose nie, want pastoriekinders is vroeër jare met ‘n fyn oog dopgehou. “Min het hulle geweet dat daar tussen die pastorie se vier mure ook maar net gewone mense bly”, sê sy.
Sy het groot geword, getrou en die soet en die suur van die lewe beleef. Renette het egter in diens van God die land vol opgetree en gewerk met die hoofgedagte: “Die God van die mossie”. Op ‘n stadium het Renette gevoel of sy alles verloor het. Haar man, haar werk en selfs haar gesondheid. Sy het ‘n kluisenaarslewe begin lei.
‘n Skoolvriendin spoor haar in Oktober 2016 aan om in te skryf vir die Lady Gracious-kompetisie, maar sy sê met haar hele hart “nee dankie”.
Lady Gracious Suid-Afrika se doelwit is om ‘n nasionale kompetisie daar te stel vir vroue en om vir hulle ‘n platform te gee om ‘n verskil in hul families en gemeenskappe te maak.
In Januarie 2017 besoek sy haar oogarts vir haar jaarlikse oogtoets. Dié het so moedeloos voorgekom dat Renette haar eers bemoedig en later sommer vertel het van die ‘lawwe’ voorstel van die vriendin. Twee weke later kry sy ‘n e-pos: “Stuur jou vriendin se e-pos rakende die kompetisie vir my”. Drie ure later ontvang sy die volgende: “Ek het vir jou die donasie inbetaal soos die Here dit op my hart gelê het … Ek glo die Here gaan jou weer oprig en gebruik.”
Van daar af gebeur dinge vinnig. Die haarstilis sê sy sal voor elke funksie haar haarsnye, kleur en stilering borg. Die tandarts borg tandverwitting vir ‘n jaar. Dennis Lloyd, bekende ontwerper in Centurion en jarelange vriend, borg vir haar vier rokke. Registrasiefooie is namens haar betaal. Naelversorging word geborg asook ‘n grimeerkunstenaar gryp in. Sy word tot finalis verkies. Renette is oorstelp. Maar, as gevolg van haar persoonlike omstandighede is daar nog heelwat wat sy nodig het om van die jaar ‘n sukses te maak.
Reinette se verhaal word in Junie vanjaar opgeneem en dit sal uitgesaai word op Kruiskyk TV.
Renette beplan haar Ellisras “Cup-a-Grace” – Lady Gracious funksie vir Saterdag 5 Augustus 2017. Meer besonderhede volg later. Volg haar op haad Facebook-blad Lady Gracious SA Finalist 2017 – Renette van Wyk
Daar word deur die jaar na elke finalis gekyk en by die verskeie funksies wat die finaliste reël is daar beoordelaars. Die stemlyn (voting sms line) word gebruik om die publiek se keuse aan te wys (Public Choice Award). Die Finalis wat die meeste stemme ontvang- wen dus die Public Choice Award. SMS-kodes word die eerste week in Junie 2017 bekendgemaak – dit sal in die pers aangekondig word.
‘n Gedeelte van die fondse wat vir Lady Gracious ingesamel word gaan na Cradle of Hope, die gekose liefdadigheidsorganisasie vir 2017.
Lady Gracious Suid-Afrika versoek die Lephalale-gemeenskap om deel te wees van die projek en Renette as finalis te ondersteun. Kontak Suret Stroh, stigter van Lady Gracious, by 081 089 9992 vir enige verdere inligting. Renette kan gekontak word by renette@mymtnmail.co.za om te hoor waar sy nog hulp nodig het. Sy kan ook gekontak word deur enigiemand wat betrokke wil raak by haar bediening of haar wil bespreek vir funksies.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.