Aksie by Albertyn

LEPHALALE — Die NG kerk Albertyn se basaar wat Saterdag 4 Mei gehou is, was een vir die boeke.
Revuegroepe van Laerskool Ellisras en Laerskool Bosveld Primary het verseker dat die dag op die regte noot begin en besoekers kon hulle vir ʼn wyle verlustig aan die kinderstemme.

Die besoekers kon so lekker smul, want die flukse vroue het agter die potte gestaan (die mans het net nader gestaan vir die foto …)

Die kindertafel, onder leiding van Louise Schönfeldt en “bestuur” deur die Campbells, het seker gemaak dat Ma en Pa ʼn rustige koppie koffie kon drink. Besoekers kon smul aan gunstelinge soos vetkoek, kerrie-en-maalvleis, pannekoek en ʼn regte Albertyn-boereontbyt.

Sakke vol heerlike gebak uit die VLU-lede se kombuis, vars groente, vrugte en vele meer is opgeraap.

Mense het in groepe saamgekuier onder die bome en die sonnige herfsoggend geniet saam met die Albertyners.

Ds Hennie Hoepfner, leraar van die NG Kerk Albertyn, bedank ieder en elk wat die basaar bygewoon het vir hulle ondersteuning en almal wat hard gewerk het om ʼn groot sukses te maak van dié jaarlikse instelling.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.