Alice in Wonderland en PJ Cruz besoek Mogol gholfklub

Tamboti-toyota-gholf-koerant-1
Organiseerders saam met Willie de Klerk en André Lötter van Tamboti Toyota

Ria Wells
LEPHALALE – Die gewilde en pretbelaaide Tamboti Toyota damesgholfdag is een van die hoogtepunte op die dorp se jaarkalender. Die komitee hoop om hierdie jaar meer as 100 inskrywings te kry en moedig die dames aan om in te skryf vir die kompetisie oor nege putjies wat op 19 Maart plaasvind.
Hope pryse is op die spel, onder andere vir die algehele wenner en -naaswenner, nie-gholfer-wenner en –naaswenner, oudste dame wat die stokke aandurf, naaste aan die penne, spangees, besgeklede span, besgeklede individu, mees oorspronklike span en nog vele meer!
Hierdie jaar is die tema “Alice in Wonderland”. So dames, skryf gerus ‘n span van vier spelers in, gee die span ‘n naam en bespreek en besluit watter karakters julle wil voorstel! Enkelinskrywings kan ook gedoen word en die klub sal dan ‘n span saamstel waarna jy kan reëlings tref.
Spelers kom 8:00 by die klub bymekaar en dames wat eers vooraf ‘n paar houe wil slaan is welkom om kers op te steek by die gholfkliniek by die oefenbof.
Natgate verseker dat die kele nie droog word nie en die heerlike eetgoed gee mens weer woema vir die volgende hou of twee. Spesiale aktiwiteite op die baan gaan boonop vir groot opwinding sorg. Na die dag se spel kom almal by die lapa bymekaar vir die prysuitdeling en ete en dan is dit die dames se kans om PJ Cruz, wat as aankondiger en kunstenaar optree, te beïndruk!
Die organiseerders, Jaun-Marie du Plessis, Engela Nel, Barbara Herron en Sorinca Buitendag, wil graag die dames bederf en bedank vir hul toewyding gedurende die afgelope drie jaar se ondersteuning en nooi dus alle dames uit om te deel in die gholfdag. Besoek gerus hul facebookbladsy: Tamboti Toyota dames gholfdag vir meer inligting of skakel 014 763 4948.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.