Alice oortref haarself

IMG_4376

Ria Wells
LEPHALALE — Alice in Wonderland het Saterdag 19 Maart haar ware kleure en klere gewys tydens die Tamboti Toyota Damesgholfdag.
Die bekwame komitee onder leiding van Jaun-Marie du Plessis, Barbara Herron, Engela Nel en Sorinca Buitendag, asook die gewilde sanger, PJ Cruz, en die Mogolklubspan het gesorg vir dié pretbelaaide gholfdag. Die komitee bedank die spelers vir hul spangees en deelname.
Na afloop van die dag se spel het die Alice in Wonderland-gangers onder die lapa bymekaargekom vir die prysuitdeling. Die “koningin”, Barbara Herron, het die mikrofoon saam met PJ Cruz tydens die prysuitdeling hanteer en die dames soos ‘n regte koningin regeer – met ‘n ysterhand!
Verskeie pryse is uitgedeel met gesoute gholfer Engela Nel in die eerste plek en Charlene van Eeden in die tweede plek as nie-gholfer. Lea van Tamboti Toyota het die langste ‘malvalekker’-hou gespeel en dan was die “Wonderland”-span die span wat die beste geklee was. Die span met die beste spangees was die “Hot Flashes” en hulle het behoorlik gekook! Die oudste speler, alhoewel jonk van gees, was die 57-jarige Marga Botha.
Charlene Reynolds is vereer vir die dame wat die langste op die baan deurgebring het. Deon Hattingh was puik geklee en het gehelp om pryse uit te deel. Hy is bedank vir die moeite wat hy met sy kleredrag gedoen het. Talle gelukstrekkingspryse is uitgedeel.
Jan Beyer, bestuurder by die Mogol gholfklub, het die komitee en almal wat deelgeneem het – ‘n hele 90 spelers – van harte bedank vir hul gesindheid teenoor die Tamboti Toyota-damesgholfdag asook die res van die borge wat ‘n reuse bydrae tot die sukses van die dag gemaak het.
Besoek Mogol Pos se Facebook-bladsy vir hope foto’s van die pretdag en deel (share) gerus met julle vriende!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.