Amper-mammas blom by bederf-oggend

Leoni Kruger
LEPHALALE — Mediclinic Lephalale het Saterdag 18 Februarie ‘n baie geslaagde oggend spesiaal vir swanger vroue by die Maroela-oord in Onverwacht aangebied. Die geleentheid was deel van Februarie as “swangerskapmaand” se vieringe.
Volgens Doreen Versfeld, kraamsuster by Mediclinic Lephalale, het 30 amper-mammas en ongeveer tien amper-pa’s die geleentheid bygewoon. En natuurlik het ‘n paar oumas ook saam gekuier.
Dr Mariette Emslie het die gaste toegespreek en meer vertel oor swangerskap en die veranderinge van ‘n vrou se lyf wat daarmee saamgaan. Sy het ook die verskillende fases van swangerskap bespreek.
Sonja van Jaarsveld, arbeidsterapeut, het gepraat oor die persepsie van onder andere stimilu uit die omgewing. Sy het verduidelik dat net soos sommige mense kan funksioneer in ‘n omgewing wat ryk aan stimulasie is, soos byvoorbeeld ‘n besige winkelsentrum of kantoor en ander mense dit glad nie kan hanteer nie, so verskil babas ook. Sy sê sommige babas huil meer, want hulle geaardhede hou nie van stimulasie nie. “As mens jou eie toleransie daarvoor verstaan, kan jy ook jou baba beter verstaan” sê sy.
Nic du Toit, risikobestuurder by Medupi, het die gaste gewys wat om te doen as ‘n baba verstik en hy het die noodsaaklikheid van ‘n karstoeltjie en karstoelveiligheid bespreek.
Die hoogtepunt van die geleentheid was toe Nic vir die pa’s wys hoe om ‘n baba se doek om te ruil!
Na afloop van ‘n baie interessante oggend waar noodsaaklike inligting gedeel is, kon almal smul aan heerlike eet- en drinkgoed.
Doreen bedank elkeen wat ‘n bydrae gelewer het om van dié spesiale oggend ‘n groot sukses te maak. “Die gemeenskap het my regtig ondersteun, ek het net weer gesien dat die platteland en die stad se mense wêrelde van mekaar verskil. Tydens my soektog na borge was dit ongelooflik om te sien hoe almal graag ‘n bydrae wou lewer. Baie baie dankie daarvoor” sluit Doreen af.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.