Andrew ontslaan na trauma

Andrew voor hy uit die ISE ontslaan is

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit gaan reeds baie beter met Andrew Schoeman wat Vrydag 6 Januarie deur ‘n swart mamba gebyt is.
Volgens Dalene du Plessis, sy verloofde, is hy Dinsdag 17 Januarie vir die eerste keer uit die intensiewe sorgeenheid (ISE) oorgeplaas na ‘n algemene saal.
Schoeman het longkomplikasies opgedoen nadat hy allergiese reaksies gehad het op die teengif. Hy is na Pretoria-Oos Hospitaal se ISE oorgeplaas waar hy tot Dinsdag was.
Mogol Pos het Dinsdagmiddag per WhatsApp met Andrew gekommunikeer. Hy sou na verwagting Woensdag (18 Januarie) ontslaan word. “Ek is nog oorweldig met emosies. Dit was ‘n geweldige traumatiese ervaring. As ek net eers my seuntjie gesien het sal ek beter voel. Ek wil graag al die dokters, boere, vriende en familie bedank vir alles wat hulle gedoen het. Baie dankie ook aan die personeel van die ISE vir die ongelooflike werk wat hulle doen.
Ek dink hierdie het met ‘n doel gebeur. En net die Here weet wat Sy doel was met my”.
Andrew sê verder die eerste ding wat hy gaan doen na sy tuiskoms is om die hele dag saam met sy familie te spandeer en vir hulle te wys hoe lief hy vir hulle is. Daarna gaan hy ‘n slangdigte elektriese heining by hulle huis opsit om alle slange buite te hou vir sy familie en honde se veiligheid.
Verskeie navrae is ontvang oor die ambusak waarna daar in verlede week se voorbladartikel verwys is. Mogol Pos gaan volgende week ‘n volledige artikel hieroor publiseer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.