Anita het voluit geleef — 12 Desember 1952 tot 7 April 2019

LEPHALALE — Wyle Anita Basson van Biljon (Louw), gebore 12 Desember 1952, het ʼn storie gelos by elke persoon wat haar lewe gekruis het. Sy was anders as ander ma’s en ʼn “lekker” ouma wat tot met kokipenne op haar kleinkinders geteken het oor wie sy verskriklik erg was. Só sê Amanda Pieterse en Isabeau van Biljon van Heerden oor hulle ma, Anita, wat Sondag 4 April onverwags dood is.

Anita was op pad terug van Bettiesbaai af waar sy saam met haar suster, Isabeau (Abba) Salmon, gekuier het. Volgens inligting het sy reeds sleg gevoel toe sy op OR Tambo-lughawe van die vliegtuig afgeklim het. Die reëling was dat sy met die Gautrein tot in Midrand sou ry waar Abba se seun, Dion, en sy verloofde, Caru, vir haar gewag het.

Anita en haar hele gesin was onlangs almal saam by Sun City. Sy het aangedring dat almal gaan en Gert het aangedring dat daar ʼn foto van hulle almal saam geneem moes word. Dié foto is die laaste foto wat geneem is waar die hele gesin saam was

ʼn Mediese dokter, wat toevallig ook op die Gautrein was, het gesien sy voel nie lekker nie – sy was duiselig en swak – het haar gehelp tot by Midrandstasie waar Caru vir haar gewag en saam met haar geloop het tot by die motor waar Dion vir hulle gewag het.

Hy het haar onmiddellik na ʼn mediese sentrum geneem sowat 5 km van die stasie af waar dr Bangaar by Ongevalle aan diens was.

Anita is deur die dokter ondersoek en alhoewel haar bloeddruk laag was, het sy vir die dokter gesê sy het geen hart- of borspyn nie. Nadat die dokter haar volledig ondersoek het, het hy haar op ʼn drup gesit en haar laat rus, terwyl hy solank aan ʼn ander pasiënt aandag gegee het.
 Die ontvangsdame het iets gehoor vanuit die ondersoekkamer waar Anita gelê het en gesien sy reageer nie.

Sy is na die resussitasie-kamer en daar was geen polsslag nie. Die dokters het sowat ʼn uur probeer om haar te resussiteer. Dit was 13:45.

Die dokters het bevind dat daar waarskynlik ʼn bloedklont deur haar long gegaan het en dit het die hartstilstand veroorsaak.
Anita het skielik, vreedsaam en sonder enige pyn gesterf.

Volgens Anita se sus, Abba, het hulle die week voor haar dood ʼn wonderlike tyd saam spandeer by die Van Biljon’s se vakansiehuis in Bettiesbaai en Anita was op ʼn baie goeie plek in haar lewe.

Anita en Gert is 3 Julie 1976 getroud waarna hulle vir ʼn ruk in Nylstroom (Modimolle) gewoon het, voordat hulle na die destydse Ellisras verhuis het. Hulle het op ʼn blinde afspraak ontmoet en is kort daarna getroud. Gert het Machauka Lodge gebou en sowat ʼn jaar daarna het Anita, op daardie stadium ʼn ma met twee klein dogtertjies, die Lodge binne tien jaar tot ʼn spogplek uitgebrei.

Haar dogters sê sy was haar lewe lank baie trots daarop.

Sy was belese, was gek oor mooi musiek, waaronder koormusiek, sy het nooit ʼn kuier saam met haar vriendinne misgeloop nie en sy het gehou van reis, kunstefeeste bywoon en stories vertel. En sy het haar besigheid met passie bedryf en bestuur.

Haar dood laat ʼn groot leemte in die Lephalalegemeenskap.

Anita laat haar man, Gert, dogters Amanda (34) en Isabeau (37), skoonseuns Jannie (36) en Pieter (39), vyf kleinkinders Lillibet (9), Margauz (5), Johannes (2), Gèan (6) en Oliver (3), en haar twee susters agter.

Anita van Biljon se gedenkdiens word Vrydag 12 April om 11:00 vanuit die NG Kerk Albertyn in Lephalale gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.