Ansie = inspirasie

Ansie Prinsloo se dae is te kort vir alles wat sy nog wil doen
Ansie Prinsloo se dae is te kort vir alles wat sy nog wil doen

Leoni Kruger
LEPHALALE — Toe Ansie Prinsloo sowat vyf jaar gelede in Lephalale aangeland het was die aanpassing vir haar baie groot. Haar man, Johan, is na Medupi oorgeplaas as projekbestuurder.
‘n Reuse geleentheid. Maar vir Ansie was dit nie so maklik nie. Sy het boonop oral waar sy gaan gehoor hoe mense negatief is oor die kragstasie en hoe dit die dorp verander het. Totdat sy eendag, weer nadat sy gehoor het hoe vroue praat van al die negatiewe wat die kragstasie na die dorp gebring het en sy haarself nie kon keer om te sê dat as dit nie vir die kragstasie was nie, het die meeste van die winkels dalk nie besigheid gedoen nie.
“Ek het besef ek sal iets moet doen om my konstruktief besig te hou sodat ek nie later depressief raak nie” sê sy.
Sy het toe reeds kinderklere gemaak vir ‘n jaarlikse mark by Laerskool Die Poort, waar haar dogter Chantell, ‘n onderwyseres is.
Na die geboorte van Chantell se dogtertjie sit hulle een dag en praat oor die moontlikheid daarvan om op ‘n groter skaal klere te maak vir babas en kleuters. Haar seun, ook Johan en ‘n filmmaker, was dadelik vuur en vlam dat hy hulle sal help met ‘n aanlynwinkel. Die naam van die reeks was maklik – “Liefielyfie”.
En sy het nog nie een keer teruggekyk nie. Sy maak klere vir kinders van 0 – 6 jaar en gebruik slegs 100% katoen en kwaliteit kant, lint en garing. Sy glo die klere moet duursaam wees en nie slegs na een geleentheid gedra word nie. “Ek sien dit as ‘n familieprojek – Chantell doen die finansies en bemarking en Johan hanteer die aanlynwinkel. Ek wil nooit hê dit moet werk word nie, dit is ‘n stokperdjie en ongelooflik vervullend om te sien hoe opgewonde ‘n ma oor haar kind se mooi uitrusting is” sê Ansie.
Elke uitrusting is uniek en Ansie sê sy het nog nooit twee van dieselfde items gemaak nie. “Al is dit net ‘n stukkie kant of lint wat verskil.”
Deesdae kan sy nie voorbly nie. Sy ontvang bestellings van sover as Parys en Graaff-Reinet en verskaf ook aan ‘n winkel in Pretoria.
Intussen hekel sy dat die biesies bewe – die meeste van haar uitrustings bevat ook ‘n stukkie hekelwerk. Sy is ook besig om ‘n mat te hekel vir Johan.
Vir Ansie gaan dit nie daaroor om geld te maak uit haar skeppings nie – “ek het my kinders ook geleer – as jy doen waarvan jy hou, kom die geld en erkenning later vanself”.
Ansie staan elke oggend 04:00 op en gaan laat saans bed toe. Daar is net te veel wat sy nog wil doen. Daar is baie tyd vir rus wanneer mens nie meer op die aarde is nie – “doen alles wat jy nog wil doen terwyl jy nog tyd het”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.