Anton groet na 12 jaar

LEPHALALE — Die personeel, beheerliggaam en vriende van Laerskool Ellisras het Woensdagaand 21 Maart afskeid geneem van Anton du Plessis, voormalige skoolhoof, wat reeds sedert 1 Februarie vanjaar sy stoel vol sit as skoolhoof van Hoërskool Nylstroom.

Anton du Plessis (derde van links) saam met die uittredende beheerliggaamslede

Anton het in sy afskeidsboodskap gesê een van sy drome was altyd om die “trappe” te klim tot by die hoof van ’n skool en ’n bietjie van sy droom het reeds by Laerskool Bosveld Primary gestalte gekry toe hy in 1993 as departementshoof aangestel was. In 2005 word hy aangestel as waarnemende skoolhoof by Laerskool Unitas in Swartwater en in 2006 word sy droom waar toe hy as skoolhoof van Laerskool Ellisras aangestel word. Na 25 jaar in die onderwys is hy nou skoolhoof van Hoërskool Nylstroom.

“Met elke trap wat ek geklim het was God in beheer en daarmee saam was my vrou, Wilma, en later my kinders en familie, sowel as die beheerliggaamvoorsitters van elke termyn my rigtingaanwysers”.

Anton sê hy en Wilma wou regte, ingeligte besluite in samewerking met hulle mense neem – “my loopbaan by Laerskool Ellisras en nou ook my pos by Hoërskool Nylstroom was deel van daardie besluite.”

Sy boodskap aan die onderwysers, administratiewe personeel, koshuis-, kleuterskool- en naskoolpersoneel was die volgende: “Ek het geleer, jy het geleer. Ons moet altyd onthou om herinneringe te maak en altyd daarna streef om dit wat ons geleer het te doen”. Aan die personeel se gades: “Dankie vir julle aandeel in my tyd by Laerskool Ellisras. Elkeen het ’n rol gespeel om ’n sukses te maak van jou gade se loopbaan by die skool. ’n Persoon wat gelukkig is by die huis is gelukkig by die werk”.

Aan die beheerliggaamvoorsitters in die 12 jaar wat Anton by Laerskool Ellisras was, naamlik Hein Schönfeldt, Christo van Niekerk, Tommie Richards, Riaan Vosloo en Melanie Malan: “Ons het mekaar ontmoet hier, hande gevat en ons agenda was altyd dit wat die beste was vir die skool. Julle het my die geleentheid gegee om my droom uit te leef. Dankie aan die beheerliggaam en ouers van die skool dat ons kon hande vat om ’n sukses te maak van ons skool”.

Aan die Departement van Onderwys, kollegas en buurskole: “Me Mabotja, kringbestuurder van Ellisras, het my die laaste paar jaar op haar professionele manier daaraan herinner dat ek altyd die regte ding moet doen. Dankie ook aan haar”.

Hy het Louwtjie Pretorius, skoolhoof van Laerskool Bosveld Primary, beskryf as ’n vriend en kollega – “ons het ’n professionele verhouding gehad, mekaar respekteer as hoofde van buurskole en opponente op die sportveld en ons het steeds vriende gebly”.

Hy het Louis Campbell, voormalige skoolhoof van Hoërskool Ellisras, ook bedank vir sy ondersteuning en vriendskap teenoor Laerskool Ellisras en kerke, predikante, sakemense en verskeie besighede bedank vir hulle altyd positiewe ingesteldheid teenoor en ondersteuning van Laerskool Ellisras.

Anton het ook sy vriende en gesin bedank dat hulle in hom glo en die Hemelse Vader vir wysheid, geduld en energie.

Hy het afgesluit met dié seënbede: “Die Here sal julle seën en beskerm, die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee, die Here sal vir julle sorg; Hy sal julle nooit los nie.”

(Mogol Pos wens Anton en sy gesin alles van net die heel beste toe met dié nuwe fase in hulle lewe. Dankie vir jou goeie gesindheid teenoor Mogol Pos – Red)

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.