Apiesdoring karnaval — Hervormers aan die voorberei

So lyk die vleissaal by die jaarlikse Apiesdoring karnaval. Die verkoping begin om 08:00. Tydens 2015 se karnaval het die eerste besoekers al 5:30 voor in die vleisry gestaan - kompleet met ‘n fles koffie en kampstoele
So lyk die vleissaal by die jaarlikse Apiesdoring karnaval. Die verkoping begin om 08:00. Tydens 2015 se karnaval het die eerste besoekers al 05:30 voor in die vleisry gestaan – kompleet met ‘n fles koffie en kampstoele

THABAZIMBI – Karnaval hou is soos ‘n goeie huwelik. Dis lekker, maar dis harde werk! Dit vra opoffering van dit waarmee die Here jou seёn. Dit vat aan jou sak, jou talente en jou tyd. Maar uit liefde vir die Here en Sy koninkryk word gegee.
Byna 60 beeste is geskenk en Tuffy Reynecke doen weer die voer en afrond-werk.
Dis tans jagseisoen en wildboere laai week vir week ‘n klompie karkasse by die koelkamers af. Vele biltongjagters uit die gemeente skiet met hulle jagtogte ook spesiaal ‘n bok vir die kerk. Dis nou al ‘n tradisie, want hier word geglo jy word nie armer as jy vir die Here gee nie…
Woendaemiddae en -aande is vleiswerk. Dan word biltong gesny, springbokboude vakuumverpak en baie lidmate sit die vleis en ontbeen. Daarna word saam gekuier en lekker geёet. Name van ander lidmate word geleer en vriendskappe word gesmee. Dis mos hoe die gemeenskap van gelowiges moet maak. En so word karnaval hou ook gemeentebou.
Die pryse is vasgestel onder leiding van die touleier en kanavalvoorsitter, Izak Joubert, en die pryse is baie billik. Waar koop jy nog rooibokbiltong teen R100-00 p/kg (solank die voorraad hou), ander wildbiltong R130-00 p/kg en beesbiltong R140-00 p/kg? Met sulke pryse gebeur dit jaar na jaar dat eienaars van biltongkiosks alles wil opkoop en dit in die voorwȇreld wil verkoop vir tot R399-00 p/kg!
Ander pryse is die gewilde boerewors teen R49-00 p/kg, kookvleis teen R39-00 p/kg, maalvleis teen R49-00 p/kg en bloubulsteaks teen R59-00 p/kg.
Terloops, daar is oorweeg om die naam van die “steaks” te verander, maar dίe Bulle het darem ‘n slag die geveg of stryd gewen.
Die “vleisspan” sal weer regstaan om die vleisverkope flink en vinnig te laat verloop. Vra vir ma om ‘n lekker fles koffie te maak en kom sit met jou kampstoel vroeg in die ry om teleurstelling te voorkom.
Die Thabazimbi Apiesdoring karnaval vind plaas DV Saterdag 6 Augustus by die Hervormde kerk. Verkope begin reeds om 08:00.
Skakel Izak Joubert by 083 488 6357 of Hennie van der Linde by 083 507 0335 vir navrae of maak ‘n draai by www.apiesdoringkarnaval.co.za.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.