Baie bome by Blouberg

Tak-Mankettie-groep-mense
Lede van Tak Manketti en Tak Pilanesberg van die Dendrologiese vereniging het die afgelope Paasnaweek in Blouberg Natuurreservaat deurgebring

Leoni Kruger
LEPHALALE — Tak Manketti en Tak Pilanesberg van die Dendrologiese vereniging het die afgelope Paasnaweek hulle sakke gepak en die bome by Blouberg natuurreservaat van nader gaan bekyk.
Dit was die Dendrologiese Vereniging se eerste besoek aan Blouberg op uitnodiging van die reservaatbestuurder, Johan van Wyk, en die Vriende van Blouberg, ‘n organisasie wat hulself vir die welsyn van die reservaat beywer.
Volgens Hartwig von Dürckheim, bestuurslid van die Dendrologiese vereniging, was die idee van die besoek om prominente bome in kampe en langs hoofroetes te identifiseer sodat boomnaamplaatjies daarop gemonteer kan word. Lede van sover as Lephalale, Rustenburg en Pretoria het opgedaag.
Von Dürckheim sê die eerste dag se roete het in die sandveld begin, om die oostelike berg gelei en by ‘n fontein met pragtige uitsigte op die berg se kranse is daar ‘n pouse gehou. “Dis ook hier wat mens die kransaasvoëls om die pieke van die berg kon sien sirkel” sê hy. Die volgende dag het elke gesin sy eie ding gedoen. Party het in die skadu van ‘n groot njalaboom gesit terwyl Coen Homan klanke gespeel het om voëls te lok. Von Dürckheim sê dit werk! Ander het langs die paadjies gestap en gebotaniseer. ‘n Hele paar “nuwe” bome is hier op die boomlys geplaas.
Von Dürckheim sê dit is algemeen dat die Dendrologiese vereniging met elke uitstappie ‘n “boomlys” opstel van die verskillende soorte bome wat op die spesifieke plek positief geïdentifiseer kon word.
“Hierdie lys is van groot waarde vir die Blouberg Reservaat se besoekers, en ook vir meer wetenskaplike doeleindes aangesien dit die grondslag vorm van die verspreidingkaarte van verskillende soorte bome in die hele land. Aanvanklik was daar geraai dat daar nie veel meer as 70 of 80 soorte bome in die reservaat gevind sal word nie. Op die ou einde het ons byna ‘n honderd spesies gevind en die vermoede is dat, indien jy te voet die terrein behoorlik sou verken, daar waarskynlik in die omgewing van 140 spesies gevind mag word – werklik ‘n paradys vir boomliefhebbers, en ‘n bestemming wat jy weer en weer kan besoek,” aldus Von Dürckheim.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.