Baltimore VLU raak plantwys

BALTIMORE — Die lede van Baltimore VLU was absoluut in vervoering na hulle besoek verlede week aan Sterreprag Kwekery en hulle byeenkoms in Wilma Lorden, eienaar van Sterreprag Kwekery, se tuin.
Rina van Staden (voorsitter) het die besondere geleentheid geopen met ‘n boodskap uit Jes. 41: 10: “moenie bang wees nie, nie ontstel nie, Ek hou jou vas”.
Hierna deel Wilma belangrike raad en feite oor die voorbereiding van grond voordat plantjies geplant word en elke vrou het ses sakkies ontvang waarin hulle self plantjies kon plant en verder versorg.
Almal was dit eens dat dit ‘n baie kosbare ervaring was – almal het idees uitgeruil en elkeen moes verduidelik waarvoor hulle die plantjies gaan aanwend. (Dit was alles kruie- en saadplante).
Wilma is van harte bedank vir haar gasvryheid en die kennis wat sy gedeel het.
Na die pret met plante is die res van die jaar se program bespreek met onder andere die gewilde bejaarde-ete wat op 5 Oktober gehou gaan word asook gaskunstenaar Chris Coetzer se optrede op 14 Oktober.
Takskakel Naomi Groenewald het die vergadering afgesluit waarna almal kon weglê aan heerlike eet- en drinkgoed.
Skakel Naomi by 082 079 5843 vir meer inligting oor dié tak se bedrywighede.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.