Beauties vier SAVLU dag

BEAUTY – Die dames van Beauty VLU het besluit om hul Oktober vergadering aan die viering van SAVLU-dag (25 September ) te wy. Gasvrouens Ursula Zietsman, Catherine Greyvenstein en Annalise Thornhill het behoorlik uitgehang en elke lid en gas baie spesiaal laat voel. Al die dames was keurig uitgevat met hoed en al en rooi was veral ‘n baie gewilde kleur.
Bosveld VLU-streekvoorsitter, Ria Strydom, was die eregas vir die dag en elke lid kon ‘n vriendin saamneem. Volgens Altie van der Linde, takskakel, het die gaste dit so geniet dat van hulle met die aanvang van die nuwe jaar by die Beauty-tak wil aansluit.
Die tema van die dag was “VLU – Ons Eie” en dit is op verskeie maniere uitgebeeld. Daar was onder andere ‘n uitstalling waar die tak se lede gespog het met van hul artikels wat hulle oor die jare gemaak het, asook die tak albums van 2015 en 2016.
Corrie Kruger het ‘n uitstalling gedoen oor VLU Noord se Kunstenaar van die Jaar, dr Mich Veldman, met pragtige foto’s van sy werk en baie interessante inligting.
Anette du Preez is die bome-ghoeroe van die omgewing en het die dames meer VLU Noord se Bome van die Jaar en die kreatiwiteit-aktiwiteit is deur Desiree Kruss aangebied wat almal twee blommetjies laat maak het met ‘n ritssluiter!
Die dames sê dit was ‘n dag duisend, so reg in die SAVLU se kraal.
Die Beauties se laaste vergadering vir 2016 vind Woensdag 2 November by die Tom Burke Boeresaal plaas.
Ondersteun asseblief die Beauties se fondsinsamelingprojek in die vorm van pannekoek en “jaffels” wat Saterdag 29 Oktober by Tom Burke NTK te koop sal wees.
Vir meer besonderhede oor Beauty VLU en hul werksaamhede, kontak gerus vir Altie van der Linde by 082 299 6725.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.