Beauty en Visgat rybaar

Die Beautypad lyk goed
Die Beautypad lyk goed

Leoni Kruger
Mogol Pos het Donderdag 2 Junie van die grondpaaie wat na die vloede van Maart 2014 onrybaar was, saam met Jacques Snyman van die Lephalale Development Forum (LDF) aangedurf.
Die Beauty grondpad (D171) het Mogol Pos se voorblad in Januarie 2015 gehaal toe die pad steeds onbegaanbaar was.
Intussen het die nasionale noodtoestand- en rampverligtingsfonds fondse beskikbaar gestel vir die herstel van die pad en SANRAL het kontrakteurs aangestel vir die herstel van die pad.
Die pad is lekker breed en goed herstel. Daar is hier en daar ‘n klipperige stuk en effe los sand, maar die grootste gedeelte van die pad is maklik rybaar. Die enigste kritiek is dat die pype wat onder die pad deurloop, uitstekend gelê is, maar die uitloop is reg teen ‘n wal, so die water het nêrens plek om uit te loop nie. Dit kan dus weer ‘n probleem veroorsaak wanneer dit reën.
Om die Visgatpad (D1777) te ry, was ‘n aangename verrassing. Die pad is nou nie geskik vir tweerigtingverkeer nie, maar die vloedskade is alles herstel en die pad ry heel maklik met enkele uitsonderings. Veral die deel waar die nuwe Emoya Big Cat Sanctuary geleë is, is baie goed herstel. Mogol Pos het albei paaie sonder ‘n viertrekvoertuig aangedurf en geen probleme ondervind nie.
Dankie aan al die betrokkenes wat daartoe bygedra het dat dié paaie herstel word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.