Beauty-skoffel maak litte los

TOM BURKE — Die Beauty-tak van die VLU het onlangs ʼn gesellige Countrydans te Tom Burke gehou. Gaste is verwelkom met melktertjies in vloeibare vorm, waarna die dansbaan met ʼn lyndans geopen is.

Beauty VLU se cowgirls

Daar was nie ʼn tekort aan aktiwiteite vir die kinders nie en hulle het boonop geskenkpakkies ontvang. Op die veiling is handgemaakte stokperde, gemaak deur ywerige lede, vir ʼn weggeeprys aangebied. Van die items wat ook op die veiling aangebied is, is onder andere twee perde en ʼn vyf liter bottel wyn.

Na afloop van die veiling is ʼn perderesies gehou tot groot vermaak van oud en jonk.

Daar was ook ’n “tronk” waarin oortreders gestop is en “mede-cowboys en cowgirls” moes losprysgeld betaal sodat hul vrygelaat kon word.

Besoekers het van so ver as Musina af gekom om saam te kuier en te dans.

Pryse is uitgedeel vir onder andere die bes geklede paartjie en die beste lyndansers.

En natuurlik het die heerlike kos en nagereg bygedra tot die sukses van die aand.

Daar is tot laat geskoffel en gekuier.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.