Beauty VLU beloon

BEAUTY — Die lede van Beauty VLU het Woensdag 5 April ‘n baie spesiale vergadering gehad, want hulle het hul prestasie as wentak vir 2017 gevier, prysuitdeling gehou en baie geleer.
Die vergadering het afgeskop met ‘n inspirerende praatjie deur Cathrine Greyvenstein oor die VLU se Persoonlikheid van die Jaar, Ina Wilken-Jonker.
Cathrine het die voorreg gehad om telefonies met haar te gesels en sy sê toe Ina hoor die tak se naam is Beauty, was haar reaksie: “met so ‘n naam kan daar net baie edelgesteentes wees”. Die lede sê hulle kan nie wag om Ina in Mei vanjaar by die kongres te ontmoet nie.
Tydens die prysuitdeling het Altie van der Linde omtrent beïndruk met al die pryse wat sy ontvang het. Sy het eerste plekke behaal in naaldwerk, brei en hekel, gebak en lekkers, preservering, handvlyt, tuisverrig en sy word aangewys as Topvrou van die Jaar. Die Beauty’s sê hulle is baie trots op haar.
Desiree Kruss behaal ‘n eerste plek in borduurwerk en Petra Ortner, Sunette Pretorius en Maritsa Jacobs word beloon vir 100% bywoning van vergaderings in 2016. Elke lid word bedank vir elke artikel wat gemaak is en die lede het saamgestem dat hoe meer jy leer, hoe meer wil jy weet en doen.
Petra Ortner demonstreer kruissteek en Marie Lottering leer hulle meer oor die skildertegniek “Whimsical” – ‘n baie kleurvolle verftegniek. Enigiemand wat meer wil weer van die Beauty’s se bedrywighede, skakel Adele Engelbrecht by 079 515 6357. Hulle volgende vergadering word op 3 Mei gehou.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.