Beauty VLU groet Baby

Magdalena Wilhelmina van Niekerk (Baby)  30 September 1952 – 24 Oktober 2016
Magdalena Wilhelmina van Niekerk (Baby)
30 September 1952 – 24 Oktober 2016

BEAUTY — Vrydag 28 Oktober was vir die lede van Beauty VLU ‘n baie hartseer dag. Hulle neem op dié dag finaal afskeid van hul geliefde, dansende blommekind, Baby van Niekerk, wat op 24 Oktober oorlede is.
Al die lede van Beauty-tak betuig hulle medelye en innige simpatie met Baby se geliefdes!
Die lede sê Baby sal onthou word vir haar humorsin en vrolike geaardheid. “Sy kon enige byeenkoms ophelder en ‘n partytjie-atmosfeer skep met haar immerteenwoordige spitsvondigheid en groot liefde vir dans – en kon sy daal lyfie wikkel!
Haar hande het vir absoluut niks verkeerd gestaan nie en sy was altyd getrou op haar pos, altyd gewillig en selfs gretig om ander te help en touwys te maak. Nie net het elkeen van ons by Beauty-tak ontsaglik baie by haar geleer nie, maar sy het ook graag na ander VLU-takke in die bosveldstreek gegaan en werkswinkels aangebied om van haar kennis en vaardighede oor te dra aan wie ook al belang gestel het.
Handvlyt en kunsvlyt was maar net ván haar groot liefdes, om van blomme en plante nie eers te praat nie! Sy was altyd ‘n skitterende ster wanneer dit by blommerangskikking gekom het.
Ons groet jou ons eie blommetjie, jy sal vir ewig in ons harte leef. Rus in vrede liefste Baby, ons gaan jou ontsettend baie mis!”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.