Bederfdag vir oues maak jonk

LEPHALALE — Die motorfietsryers van Lephalale het Saterdag 1 April ‘n spesiale dag vir die inwoners van die SAVF Maroela-oord aangebied by ‘n hotel tussen Vaalwater en Lephalale.
Die inwoners, wat met ‘n bussie opgedaag het, is deur die loop van die dag vermaak met pragtige musiek. Hulle het speletjies gespeel en gesmul aan ‘n skaap op die spit saam met smullekker bygeregte. Pryse is gewen en die inwoners het ook geskenkpakkies ontvang.
Die doel van die geleentheid was om fondse vir die oord in te samel sodat die perseel se hek en sekuriteitstelsel opgeknap en verbeter kan word.
Menige inwoner het na afloop van ‘n baie besige dag gesê hulle is moeg, maar voel in gees sommer tien jaar jonger.
Die organiseerders bedank almal wat bydraes gelewer het (kontant en ander) en die geleentheid ondersteun het en sodoende verseker het dat dit ‘n reuse sukses was.
Die organiseerders was Ian en Lihana Boshoff, Lourens en Annelie Erasmus, Piet en Rina Bezuidenhout en David de Koker.
Sowat R11 000 is met dié inisiatief ingesamel.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.