Bedrieër Rudi vas in PE

LEPHALALE — Die 41-jarige Rudi Brits is nie net berug in Lephalale nie, hy het sy skelm vlerke gesprei en is ’n week of wat gelede in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat hy ’n Stellenbosse vrou bedrieg en beroof het.

Verskeie Lephalale-inwoners is steeds op sy spoor nadat Rudi met duisende rande verdwyn het.

Een van die mense wat sowat twee jaar gelede minstens R200 000 afgeskryf het nadat hy ’n deposito aan Brits betaal het vir vier buffels, is Riaan Vosloo. Volgens hom het die jagarea nie aan Brits behoort nie en hy het ook nooit sy (Vosloo se) geld teruggegee nie. Brits het ook vier koedoebulle by Vosloo “gekoop” maar nooit die geld betaal nie.

Vosloo sê hy het selfs so ver gegaan as om vir hom die bewys te stuur dat die geld in sy rekening inbetaal is, maar dit was vervals. “Dan het hy weer ander beloftes van iemand wat hom moet betaal binne drie weke. Hy het hom voorgedoen as professionele jagter sowel as jagondernemer dan bespreek hy jagte en ontvang deposito’s van ondernemings en kliënte. Wanneer dit warm raak verdwyn hy vir ’n paar weke.

“Hy was ’n paar keer in die hof in Lephalale, maar dan smeek hy my om hom te help. Op die einde moes ek besluit om dit te laat vaar, want al die hofsake sou my dalk meer kos as die geld wat ek verloor het,” sê Vosloo.

Hy was na bewering in Mbombela (Nelspruit) in die gevangenis vir voertuigdiefstal en hy was ook ’n keer in Boshoff in die Vrystaat gearresteer.

Nadat die nuus van sy skelmstreke Sondag 1 Desember in die Rapport gebreek het, het Mogol Pos baie terugvoer ontvang van nog plaaslike mense wat ook deur hom bedrieg is.

Elusha Muller sê sy het hom gelukkig gekeer voor hy kon houvas kry. Hy was twee kere in haar huis en in dié tyd het hy haar gevra of hy voertuie by haar kan “versteek”, want die bank wou dit kom haal omdat hy agterstallig is. Sy sê hy was kwansuis op pad huis toe om geld “los” te kry sodat hy die agterstallige bedrag kon betaal.

“Ek het geweier om dit vir hom te versteek, want dié tipe dinge staan my nie aan nie. Ek is boonop ’n enkelouer en wou nie my seun aan skelmstreke blootstel nie. Ek het hom nooit weer na dié episode gesien nie.

Daai skurk moet kry wat hom toekom – ’n tronksel!” sê Elusha. Sy sê ook slim het uiteindelik sy baas gevang.

“Vuilgoed, om vrouens wat so blootgestel is … wat eensaam is, wat hard werk, wat moedeloos is so in te doen? Mag God sy sake vir hom werk,” sê Elusha op die Facebook-blad “Sky women”. Wayne Terence Gerber sê: “Ek ken die ou baie goed. Hy was so paar jaar gelede in Nelspruit gewees. Ons rugbyklub besteel van borgskapgeld en ’n paar van die spelers ingedoen met leuens toe hy geld by hulle leen. Hy was al in die tronk gewees, maar is toe weer uit op parool.

Ina Fourie sê: “Dis ’n blye dag, sy skelmstreke is veelvuldig, Ek voel jammer vir sy familie, maar ek is dankbaar sy dag het aangebreek”.

Annelise Benson Lausberg sê: “Hy het my ook getarget. Was saam op skool. Gelukkig toe hy begin geld praat toe stop ek die lorrie betyds. Moes hom later blok. Voel jammer vir sy familie”.

Willene Steyn sê: “Lol het byna by elke tweede vrou hier probeer aanlê en geld leen. Sies man!”
 Op die blad IRS Forensic Investigations word aangedui dat daar na hom gesoek word nadat hy internasionale jagters van Kanada, Australië, China en ander lande bedrieg het.

Hy word ook gesoek deur eienaars van plaaslike jagplase en is reeds voorheen gevonnis vir jag sonder die nodige permitte.

Brits was ’n leerder aan Laerskool Bosveld Primary en tot met graad 9 ’n leerder aan die Hoërskool Ellisras waarna hy saam met sy ma na die stad verhuis het.

Hy is tans in Port Elizabeth in die gevangenis en verskyn weer Maandag 9 Desember daar in die hof.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.