Bejaarde sterf na aanval

Leoni Kruger
CUMBERLAND — ‘n Plaasbestuurder, Fritz van der Westhuizen (66), is Maandag 2 Mei in ‘n hospitaal in Polokwane oorlede nadat hy volgens lt. kol. Malesela Ledwaba, waarnemende woordvoerder van Limpopo SAPD, ernstige kop- en lyfbeserings opgedoen het in ‘n onderonsie met ‘n plaaswerker. Die voorval het blykbaar Saterdagaand 30 April op die plaas Klein Engeland (Little England) naby Cumberland plaasgevind.
Volgens lt. kol. Ledwaba het Van der Westhuizen ‘n vrou hoor gil vanuit die werkershuis wat naby sy huis geleë is. Hy het gaan ondersoek instel en is deur die plaaswerker aangerand. Hy is na ‘n hospitaal in Thabazimbi geneem en later oorgeplaas na Polokwane.
Adjudant-offisier Frans Mokoena, Lephalale polisiewoordvoerder, het egter Dinsdagoggend vir die Mogol Pos gesê dit was in werklikheid nie ‘n plaasaanval nie. Volgens a.o. Mokoena was die verdagte en sy vriendin wel in die werkershuis besig om te “speel” en daarom het dit geklink of sy gil. Toe Van der Westhuizen blykbaar vir hulle vra waarom hulle baklei, het die verdagte (die 27-jarige John Pukuni) hom geantwoord dat hulle nie baklei nie, maar net pret het. Mokoena sê daarna het die bakleiery tussen Pukuni en Van der Westhuizen begin. Pukuni het Van der Westhuizen blykbaar aanhoudend met die steel van ‘n mop geslaan. Mokoena sê die vriendin van Pukuni het aan die polisie bevestig dat dit is wat gebeur het en dat die bakleiery “lank aangehou het”.
Volgens a.o. Mokoena woon Pukuni in Steenbokpan en teen druktyd was hy steeds in aanhouding by Cumberland Polisie.
‘n Saak van poging tot moord het intussen verander na moord per MAS 1/5/2016.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.