Bekende van Vaalwater sterf

VAALWATER — Kobus Vermaak (63), bekende en geliefde inwoner en besigheidseienaar van Vaalwater, is Saterdagoggend 25 Februarie dood. Vermaak het in 1989 vanaf Ermelo in Mpumalanga na Vaalwater verhuis met die doel om te boer maar na slegs vier jaar veroorsaak ‘n sameloop van omstandighede dat hy die geleentheid kry om sy jarelange droom te vervul. Hy begin sy eie besigheid, Kobus Vermaak Elektries, in Maart 1993.
Kobus word in April 2015 gediagnoseer met Motorneuronsiekte (ALS) en die prognose was op daardie stadium dat hy 23 maande oor het om te leef. Die diagnose is gemaak nadat Vermaak reeds vir ‘n hele aantal jare besef het dat sy handvaardighede en spraak verswak. Sy gesin het ook opgemerk dat hy verlies van geheue asook interpersoonlike vaardighede gehad het.
“Kobus was al die jare ‘n hardwerkende man wat vroeg in die oggende kon opstaan en tot laat in die aande kon werskaf. Dit het hy ook gedoen tot ‘n week voor sy dood. Hy was waarlik ‘n voorbeeld vir ander en was sy hele lewe lank gesond en fiks. Hy was ‘n wonderlike man vir my en ‘n fantastiese pa vir ons drie dogters”, sê Dalene.
Die drie dogters is dit eens dat hulle pa vir hulle ‘n goeie voorbeeld gestel het. “Hy was altyd daar om ons by te staan en was waarlik iemand om op trots te wees.”
Die gesin is dankbaar dat Vermaak steeds die gebruik van sy bene behou het tot die dag van sy dood. “Dit sou vir Kobus verskriklik erg gewees het om in ‘n rolstoel vasgevang te wees en ek is so bly dat hy dit gespaar is,” sê Dalene.
Vermaak het ongeveer ‘n week voor sy dood ernstig siek geword met griepsimptone en hy is Maandag 20 Februarie in die Zuid- Afrikaanse Hospitaal in Pretoria opgeneem.
Sy asemhalingstelsel was geweldig aangetas deur die Motorneuronsiekte en sy longe en spiere terminaal verswak.
Hy laat sy vrou Dalene, dogters Marlene (36), Christie (30) en Adri (27) asook kleinseuns Edrian (4) en Luan (8 maande) agter.
“Die ding wat ek die heel meeste gaan mis van my pa is die feit dat hy altyd daar was vir ons dogters en dat ons altyd op hom kon staatmaak om ons te help. In enige omstandighede, enige tyd van die dag of nag en enige plek in die wêreld. Sy woord was sy eer en as hy belowe het om iets te doen dan het hy dit gedoen – ongeag” sê Marlene van Staden.
“Ons dank die Hemelse Vader vir sy genade en bystand deur hierdie tyd” sê Dalene, wat steeds die besigheid wat hulle saam opgebou het gaan behartig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.