Ben laat weer die speke sing vir Jayden

LEPHALALE — Die 38-jarige Ben Nortjé, ’n werknemer van Exxaro, gaan op 29 Februarie ’n fietsrit na Durban begin ten bate van die 7-jarige Jayden Viviers.

Mogol Pos het verlede jaar in September oor Ben berig toe hy sy fiets se speke laat sing het vanaf Lephalale tot in Upington om geld in te samel vir Jayden, ’n kind met downsindroom*.

Ben beplan om die 1 500 km na Durban in 12 dae te voltooi, wat beteken hy sal meer as 100 km per dag op sy fiets moet aflê.

Ben het met sy vorige rit na Upington geld ingesamel vir Jayden se mediese uitgawes. Met hierdie rit wil hy geld insamel sodat Jayden deur lede van die Family Hope Centre (in Amerika) geassesseer kan word. Hulle kom aan die einde van Februarie vanjaar Suid-Afrika toe.

By die Family Hope Centre leer ouers hoe om hulle kind se funksies op alle ontwikkelingsvelde te verbeter, hoe om die mees geskikte behandelingsplan te kies vir hul huidige ontwikkelingsvlakke, en ouers word ondersteun in die implementering van hulle kind se geïndividualiseerde program tuis.

Jayden se ma, Valencia, is ’n enkelouer en het nie ekstra fondse om haar kind optimaal te laat vorder nie.

Ben, wat ’n passie het daarvoor om liefdadigheidswerk te doen, het by Brainchild Fund aangeklop. Dit is ʼn niewinsgewende organisasie wat ouers help om ʼn volhoubare ondersteuningstruktuur te bou rondom elke kind met spesiale behoeftes om die kind sterker te maak. Hierdie program sal Valencia dus in staat stel om die unieke uitdagings wat downsindroom aan hulle bied, beter te verstaan en te oorkom nadat ’n kundige evaluasie van Jayden gedoen is. Ben het ook hierdie keer die geleentheid om Jayden te ontmoet wanneer hy deur Lydenburg ry.

Sy beplanning lyk soos volg:
29 Februarie vanaf Lephalale na Swartwater (118 km), 1 Maart vanaf Swartwater na Alldays (104 km), 2 Maart van Alldays na Louis Trichardt (Makhado) 126 km), 3 Maart van Louis Trichardt na Tzaneen (150 km), 4 Maart van Tzaneen na Hoedspruit (124 km), 5 Maart van Hoedspruit na Lydenburg (137 km), 6 Maart van Lydenburg na Baberton (133 km), 7 Maart van Baberton na Amsterdam (187 km), 8 Maart van Amsterdam na Pongola (187 km), 9 Maart van Pongola na St Lucia (128 km), 10 Maart van St Lucia na Mandini (150 km) en 11 Maart van Mandini na Ansteys.  

Alle fondse wat inbetaal word, word bestuur deur die niewinsgewende organisasie Backabuddy en deur Brainchild Fund versprei.

Skakel Ben by 082 557 5406 vir meer inligting oor hoe om by te dra. Hy beoog om ten minste R15 000 in te samel, want dit is die bedrag wat benodig word vir die program by die Family Hope Centre.
 Ben het voorheen met sy fiets van Port Elizabeth na Kaapstad en van Lephalale na Upington gery om fondse in te samel.

  • Jayden is op sewe maande gediagnoseer met perimembraneuse ventrikulêre septale defek en op die ouderdom van twee jaar is hy gediagnoseer met trisomie 21 (downsindroom).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.