Besige Oujaar by DBV

LEPHALALE — Mogol Pos het Maryke Jacobs, Inspekteur by Lephalale Dierebeskermingsvereniging (DBV), uitgevra oor hulle ervaring van Oujaarsaand en die gepaardgaande vuurwerke wat jaarliks afgevuur word.
Maryke sê die mense het reeds vroeg op Oujaar begin klappers afvuur en sy het self op en af in die strate gery om te probeer voorkom dat diere seerkry en om rondloperdiere op te laai. Sy het voor middernag reeds drie honde opgelaai wat deur die afvuur van klappers getraumatiseer was.
“Een van die rondloperhondjies wat ek opgelaai het is nog voor middernag weer deur sy eienaars gehaal, maar van die ander diere is steeds in die DBV se hokke.
“Baie klappers was afgevuur van net voor middernag af tot omtrent 00:15. In daardie tyd was ek by die DBV en het musiek vir die honde gespeel sodat hul kon kalmeer. Daar het een hond in die DBV se heining vasgesit as gevolg van stres en ek moes die draad knip om hom te bevry. ’n Ander het bo uit ’n hok probeer klim – ek het dit gelukkig betyds gesien en het hom teruggehelp voor hy ernstig beseer kon word,” sê Maryke.
’n Totaal van 15 honde is deur die DBV opgelaai terwyl hulle eienaars die Nuwejaar gevier het. ’n Bejaarde Jack Russell het op Nuwejaarsdag by sy erf uitgekom en hy is deur boerboele verskeur. ’n Labrador-rifrugkruis is op 2 Januarie deur Maryke opgelaai met ’n erg beseerde been en die veearts het bevestig dat die besering reeds op 31 Desember opgedoen is (te oordeel na die infeksie van die wond). Dié hond is gekry deur lede van die publiek en hulle het Maryke gebel vir hulp om hom te vang. “Ek het met Jim, ’n DBV-werknemer, se hulp die baie bang en getraumatiseerde hond gaan oplaai en die veearts het gesê dat genadedood die enigste oplossing is,” sê Maryke.
Sy sê ván die honde wat as vermis aangemeld was, is wel gevind met behulp van die publiek asook sosiale media. Daar is tans steeds diere wat soek is asook diere wie se eienaars hulle nog nie opgeëis het nie.
Maryke sê die Lephalale DBV en lede van die gemeenskap beoog om vanjaar ’n petisie saam te stel om die vuurwerke tot ’n einde te bring aangesien daar “geen kontrole en beheer toegepas word teen die afvuur daarvan in dorpsgebied nie”.
Sy sê hulle is bewus van ’n paar gevalle waar die SAPD genader is vir hulp, maar waar hulle na bewering geen poging aangewend het om op te tree teen die onwettige afvuur van klappers nie. “Die SAPD het die mag om die mense aan te spreek en vuurwerke te konfiskeer, maar tog word daar niks aan die klagtes gedoen nie. Talle diere sterf jaarliks as gevolg van vuurwerke, talle verloor hulle eienaars en kry soms nooit weer hul huise nie. Dit is nie aanvaarbaar dat mense vuurwerke afvuur waar daar ook diere bly nie.
Hopelik is die wet teen die einde van hierdie jaar aan ons kant sodat ons beheer kan uitoefen oor mense wat vuurwerke sonder permitte afvuur”, het sy afgesluit.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.