Beste van Beide — 5de produksieveiling

Van links is hanteerder Garret van Rooyen, Conrad Herbst (namens koper Paul Kloppers), Sarel Kriek van Schoonheid Boerbokstoet en Corne du Plessis, afslaer
Van links is hanteerder Garret van Rooyen, Conrad Herbst (namens koper Paul Kloppers), Sarel Kriek van Schoonheid Boerbokstoet en Corne du Plessis, afslaer

Wholesome Afslaers het op 23 Julie die Beste van Beide se vyfde produksieveiling in Pretoria aangebied en hulle sê dit was ‘n spoggerige affêre.
Die twee stoeterye, Douw van der Merwe van Hokaai Boerbokstoet en Sarel Kriek van Schoonheid Boerbokstoet het geen bekendstelling nodig nie. Beide telers spog elk met ‘n hele rits kampioene en wêreldkampioene wat deur hulle geteel is. Hulle was albei ook voorheen deur die Bosveld Boerbokklub gekroon as “Teler van Kampioene”.
Die geslagsregisters is goed uiteengesit in die katalogus met verskeie wêreldkampioene as voorsate. Bekende boerbokname en -lyne soos Rommel, Kimberley, Pip, MeCow, Tiger, Striker en die Troeflyne, om maar net ‘n paar te noem, is in die register gesien.
Afslaer Corne du Plessis en Conrad Herbst van Wholesome sê dit was vir hulle ‘n voorreg om diere van sulke gehalte namens Douw en Sarel op te veil.
Altesaam 46 kopers van Gobabis in Namibië, Gaberone in Botswana en vanoor die hele Suid-Afrika het geregistreer. Lede van Die Bosveld Boerbokklub was ook sterk teenwoordig om hul medetelers te ondersteun. Familie, vriende en boerbokliefhebbers het gesellig saam gekuier.
Lizelle en Daniel de Wet het gesorg vir heerlike boerbokvleisgeregte.
Du Plessis vertel dat ‘n 12-jarige seun, Jandré Buyers, ‘n paar keer gebie het, maar die bod het net nooit op hom geval nie. Hy bie toe weer op Lot 66, ‘n kudde-ooi uit die Tiger-lyn, maar voor hy (Du Plessis) verder kon opveil sê Douw dat Jandré die bok verniet kan kry. “Dit was ‘n baie spesiale gebaar wat ek nog lank sal onthou” sê hy.
Die duurste ooi, Lot 62 van Douw van der Merwe, is vir R17 500 aan Petrus Visagie van Louis Trichardt verkoop. Sy is ‘n top Trein-stoetooi wat spog met ‘n TLP van slegs 178 dae. ‘n Vrugbare ooi wat sag op die oog val met goeie lengte en diepte.
Die duurste ram, Sarel Kriek se Lot 27, is vir R40 000 aan Paul Kloppers van Belfast verkoop. Hy is ‘n direkte afstammeling van Pip en was Junior Reserwe Kampioen by die Wêreldskou in 2015 en in 2016 word hy in Upington gekroon as viertandwenner.
Volgens Corne du Plessis was hierdie veiling weer eens ‘n bevestiging dat kwaliteit goed verkoop. “Dit is ook ‘n riem onder die hart om die boere se positiewe ingesteldheid en vertroue te sien ten spyte van die droogte en ongunstige ekonomiese omstandighede” sê hy.
Wholesome afslaers en Beste van Beide bedank ieder en elk vir hul ondersteuning en bydraes wat verseker het dat dit ‘n baie suksesvolle veiling was.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.