“Bikers” neem aksie

LEPHALALE – Die groep motor-fietsryers “911 Ride: Bikers against farm attacks,” wat as deel van ’n lande-like veiligheidbewustheidinisiatief die afgelope naweek die onderskeie polisiestasies in Limpopo besoek het, was Sondagmiddag 8 Oktober omstreeks 12:30 in Lephalale waar hulle deur kapt Mabila van Lephalale SAPD en lede van Lephalale GPF ontvang is.
Die “911 Ride” se Limpopo-rit het Vrydagoggend 6 Oktober in Hoedspruit begin. Hulle het in elke dorp by die SAPD gestop en ’n memorandum, waarin die realiteit van plaasaanvalle en moorde en die impak daarvan op die land, aangespreek word. Die memorandum is aan die stasiebevelvoerder of iemand deur hom aangewys oorhandig.
Hulle is vanaf Hoedspruit na Gravelotte, Letsitele, Tzaneen, Haenertsburg, Mankweng, Makhado, Thohoyandou, Mshephu en Musina.
Hulle het Sondagoggend 8 Oktober uit Musina vertrek waar hulle by Alldays, Tom Burke, Lephalale, Thabazimbi, Bela-Bela en Modimolle gestop en die memorandum oorhandig het.
Pastoor TJ Maré, organiseerder van die inisiatief, het gesé dat hulle ook as groep deur middel hiervan die landbougemeenskap wil bemoedig en versterk. Hulle wil Suid-Afrikaners bewus maak van die aanslag teen die landbouers wat kos moet voorsien aan die land.
“Die doel hiervan is ook om bewustheid by die Polisie en gemeenskappe te skep rondom plaasmoorde en landelike veiligheid”.
Pastoor Maré sê hulle is baie goed in Lephalale ontvang en hulle is baie dankbaar teenoor elkeen wat ’n rol gespeel het.
Volgens Maré het lt kol Martin van Staden, SAPD Provinsiale koördineerder van landelike veiligheid, uitstekende werk gedoen deur skakeling met die SAPD en verkeersdepartement. “Hy het die hele roete saam met ons gery en dit was vir seker vir ons ’n hoogtepunt. Hy is ’n uitstekende skakelpersoon met ’n passie vir sy werk,” sê Maré.
Die “911 Ride: Bikers against farm attacks” het reeds die SAPD in Mpumalanga en die Vrystaat besoek. Hulle volgende bestemmings is die hele Kaapprovinsie, Kwazulu-Natal, Noordwes en Gauteng.
Die memorandum wat oorhandig is aan SAPD- stasiebevelvoerders het beklemtoon dat elke landbouer wat vermoor word onder andere die volgende gevolge het:
’n geleentheid om voedsel aan die land te verskaf word ontneem;
Werksverskaffingsgeleenthede word minder;
Waardevolle vaardighede en ondervinding wat oor jare opgebou is word verwyder uit ’n reeds sukkelende boerderysektor.
Die memorandum het uitgewys dat geen gemeenskap kan voortbestaan sonder landbouers en hul werkers nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.