Blomme vir Lephalale

Angelique-blomme-IMG_4641
Angelique, blommelliefhebber en –rangskikker

Ria Wells
LEPHALALE – Die kunssinnige en kreatiewe Angelique Pretorius het pas uit Nelspruit in Lephalale geland – natuurlik omdat haar wederhelfte by Medupi moes begin werk – net om uit te vind hier is nie ‘n blommeklub in die dorp nie. Baie teleurgesteld.
Angelique omring haarself reeds vir die afgelope 36 jaar met blomme wat sy in rangskikkings stileer. “Ek het as’t ware op ‘n rosebed grootgeword want my mammie was ‘n bloemiste.” Sy glo dit het bygedra tot haar liefde vir blomme en dit wat daarmee saamgaan.
Sy het haar beoordelaarseksamen reeds in 1994 na drie jaar van opleiding afgelê en intussen aan baie skoue deelgeneem, maar is baie beskeie oor haar prestasies: “Ek het so hier en daar ‘n prys gewen”.
Deur die jare was Angelique baie nou betrokke by die Lente Blommeklub in Nelspruit wat deel was van die Mpumalanga Flora Unie wat weer geaffilieer is by die Suid-Afrikaanse Flora Unie en op hul beurt aan WAFA (World Association of Flower Arrangers) behoort.
Angelique het besluit om insiatief te neem en ‘n blommeklub in Lephalale te stig. Sy sê dat sy verneem het dat hier baie talentvolle blommerangskikkers is en nooi almal met ‘n liefde vir blomme uit om haar te kontak met die gedagte aan ‘n eie blommeklub vir die dorp. Kontak haar gerus by 061 723 4079 vir enige verdere inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.