Boeiende kuier by Bulklip

LEPHALALE — Die Dendrologiese Vereniging se Manketti-tak het Saterdag 6 April ʼn besondere uitstappie na die Bul-, Koei- en Kalfklip onderneem. Dié rotsformasies is op die plase Bulklip en Welgevonden, noord van Lephalale, wat aan Anglo Operations (Pty) Ltd behoort wat gas-eksplorasie daar doen. Volgens lugfoto’s van die area is dié uitsonderlike rotsformasies waaroor wyd bespiegel is, die enigste in ʼn baie groot area.

Lede van die Manketti-tak by die Bulklip
Die Manketti troon in die natuur

Dit is ook die eerste keer dat die Manketti-taklede die mankettiboom, waarna die tak vernoem is, gesien het waar dit vry in die natuur voorkom. Manketti- en tambotiebome kom gewoonlik in sandveld in groeperinge voor en dit was ʼn belewenis om die amper-boomwoude te sien, maar die mankettiboom was die hoofonderwerp van bespreking. Die groep het ʼn lys van boomspesies wat bygehou word en wat met elke uitstappie afgemerk word – hulle kon Saterdag ses nuwe spesies afmerk.

Daar is in die veld gekuier en somtyds gestry oor verskeie spesies, net soos natuurliefhebbers kán – alles in ʼn baie goeie gees.

Die Koeiklip

By die lodge aangekom is die groep om die braaivleisvure getrakteer met meer boompraatjies, maar ook met insiggewende geskiedenispraatjies.

Volgens dr Willie Barnard is dit ʼn rariteit om byvoorbeeld ʼn kalaharitaaibos, ʼn spesie wat in bergagtige gebiede voorkom, by die Bulklip raak te loop. Dit was opmerklik hoeveel kennis die kenners in hul spesifieke veld het, ongeag die onderwerp.

Die Kalfklip

Rudi van Wyk, plaasbestuurder en hoofgids wat die groep begelei het, het gesê dat hy meer jong mense sal wil sien, aangesien dit die “ou hout” is wat met al die kennis en stories in hulle koppe loop wat dit moet oordra aan die jonger geslag.

Die plase Bulklip en Welgevonden word ook onder andere gebruik as teelplase vir buffels en swartwitpense, maar het ook baie gewone vlaktewild soos gemsbokke, wildebeeste, koedoes, elande, waterbokke, kameelperde, rooibokke, asook kleinwild. Wildbesigtigingstoere kan bespreek word en daar is ook voëlskuilings vir die voëlliefhebbers. Skakel Rudi by 082 386 2319 vir meer inligting.

Tak Manketti se volgende uitstappie is op 12 Mei. Kontak 083 609 0181 om deel te wees van ʼn gesellige en dinamiese groep natuurliefhebbers.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.