Boek 10 vir Cecilia

boek-10-vir-cecilia

Leoni Kruger
LEPHALALE — Dit is nie asof sy dit beplan nie. Met elke boek besluit sy dit is die laaste een, maar dan vorm daar ‘n idee in haar kop wat sy nie kan stil kry nie.
Meneer Perfek is Cecilia (Nortje) Slykhuis se tiende boek en sy het die hele boek boonop in net vier maande voltooi – van begin tot einde – ‘n blitsboek!
Die idee van Meneer Perfek het begin na aanleiding van een van haar vorige boeke, Vriende met voordele. “Dit is die eerste keer dat ek ‘n storie uit ‘n storie skryf en dat karakters herhaal” sê sy.
Cecilia sê karakters is ‘n groot deel van ‘n boek. “Die boek begin met ‘n idee, dan vorm die karakters en dan die storie”.
Liela en Magnus, twee van die karakters uit Vriende met voordele is intussen getroud met ander mense en ook geskei. Dit is waar Meneer perfek begin.
Liela koop die Mal Perd, ‘n restaurantteater, van haar ouma. Haar vennoot is ‘n oujongkêrel (baie veilig vir haar gebroke hart).
Intussen verskyn Magnus weer op die toneel en begin haar uitvra en nadat sy en ‘n vriendin ‘n lysie gemaak het oor die vereistes waaraan ‘n perfekte man moet voldoen, besluit sy Magnus is regtig Meneer Perfek. Die res is ‘n geheim…
Meneer Perfek is egter voorlopig haar laaste roman. (‘n Roman word gedefinieer as ‘n klein leesbare boek wat bestaan uit nie meer as 44 000 woorde nie. Die held en heldin is gewoonlik pragtig en oulik.)
Sy is reeds besig met die skryf van haar eerste volwaardige liefdesroman. Cecilia verduidelik dat ‘n liefdesroman meer gaan oor die emosionele ontwikkeling van die hoofkarakter. “Dis eintlik die hoofkarakter se storie met ‘n bietjie liefde tussenin” sê sy. ‘n Volwaardige liefdesroman moet bestaan uit 80 000 tot 100 000 woorde.
Cecilia sê sy het altyd ‘n goeie idee wat die klimaks van die boek gaan wees, maar dit wat voor en na die tyd gebeur, val self in plek.
‘n Vrou van vele talente – Cecilia is ‘n lektor by die TVET Kollege, ma, vrou en skrywer, maar sy het onlangs ook begin om manuskripontwikkeling vir LAPA-uitgewers te doen.
Sy het reeds ‘n naam vir haar liefdesroman waarmee sy besig is. “’n Engel in die Kool”.
Dit gaan oor ‘n vrou wat onder andere met haar geloof worstel. ‘n Gewone vrou met plooie en “issues”. Met ‘n skeut liefde daarby.
En die naam? Sy het op ‘n dag ‘n koolkop in die middel deurgesny en die lyne van die deurgesnyde koolkop het kompleet gelyk soos ‘n engel in die kool.
Meneer Perfek is beskikbaar by die meeste boekwinkels en ook as e-boek. Indien dit nie op die rakke is nie, vra asseblief dat dit bestel word. “Google dit net” sê Cecilia.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.