Boeliery se omvang fenominaal

Die onderwerp “boeliery” is verlede week in Mogol Pos aangespreek en dit blyk dat ʼn hele blik wurms oopgemaak is. Uit die oorweldigende reaksie wat ontvang is, is dit duidelik dat boeliery meer algemeen voorkom as wat Mogol Pos aanvanklik besef het.
Die koerant het baie reaksie uit verskeie oorde ontvang en selfs volwassenes het laat weet hoe hulle in hulle kinderjare onder ander kinders of onderwysers se verbale venyn deurgeloop het. Ander is blatant fisies afgeknou.
Verskeie boeke met die boelieverskynsel as tema het verlede jaar die lig gesien. Een van dié boeke is “Vlerke vir almal” deur skrywer Marion Erskine en uitgegee deur Human & Rousseau. Die verhaal word opgedra aan Amanda Todd, ʼn 15-jarige Kanadese meisie wat in 2012 selfdood gepleeg het nadat sy aanlyn geboelie is. Haar dood het veral ouers, onderwysers en tieners, opnuut bewus gemaak van die vernietigende effek wat boelies daagliks op miljoene kinders en tieners se lewens het.
Marion vertel op www.litnet.co.za dat Amanda se storie as’t ware by hom “gespook” het. “Sy het die video op sosiale media gelaai en daarna haar eie lewe geneem. Ek het gewonder waar was haar ouers? Waar was haar vriende? Het sy ooit vriende gehad? Waarom was selfdood haar enigste opsie? Hoe alleen moet iemand wees voor so ʼn besluit uitgevoer word?”
Hy sê gedurende die navorsing vir sy boek het hy besef dat ʼn boelie nie noodwendig ʼn groot seunskind is wat jou agter die rugbyveld bykom nie, maar dat ʼn boelie ook deesdae ʼn klein, maer outjie kan wees wat agter sy selfoon skuil en grootbek is.
“Boelies kom al van Adam en Eva se tyd af – het Eva nie maar vir Adam geboelie om die appel te byt nie? Boeliery het nou ʼn nuwe platform gekry in die vorm van sosiale media,” sê Marion.
Een van die probleme is as kinders die oortreffende trap-etiket dra. Die grootste of kleinste gebou; die mees swaksiende of lompste; die armste; die rooiste hare, kinders met die meeste sproete of selfs die kind wie se ouers die oudste in die klasgroep is.
Danksy digitale vordering raak ons toenemend bewus van die omvang van hierdie tipe dade wanneer video’s op sosiale media skokgolwe veroorsaak as gesien word hoe onderwysers kinders soms aanrand of ’n groep kinders ’n enkeling bydam.
In verlede week se koerant is ’n plaaslike bedryfsielkundige aangehaal oor hoe ’n “buitekind” wat in ’n inklusiewe groep opgeneem word later meedoen as die groep iemand karnuffel.
Nie één van die slagoffers van boeliery wat na vore gekom het, is bereid om dit publiek te maak nie – natuurlik om hulself en hulle kinders te beskerm. As ʼn boelie weet dat hy/sy in sy/haar doel geslaag het, is die wraak soveel soeter en dit kan die situasie net vererger.
Sommige van die mense wat na vore gekom het, probeer die situasie self uitsorteer, ander soek professionele hulp. Moenie wag totdat die situasie handuit ruk nie – daar is vele vorme van hulp beskikbaar.
Is jy of jou kind die slagoffer van boeliery? Skakel Leoni Kruger by 014 763 3214/5 vir meer inligting oor professionele hulp wat in die Lephalale-area beskikbaar is.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.