Boerbokveiling van gehalte

Die Beste van Beide-boerbokveiling van Douw van der Merwe (Hokaai Boerbokstoet) en Sarel Kriek (Schoonheid Boerbokstoet) tesame met gasverkoper Hein Booysen, het Saterdag 22 Julie hul jaarlikse produksieveiling by die Conrad Kleinveesentrum aangebied. Wholesome Auctioneers met Corne du Plessis was die afslaer.
Volgens Du Plessis was die aanbieding van wêreldklasgehalte met al drie telers wat verskeie wêreldkampioene opgelewer het.
Die veiling is geopen deur die President van die SA Boerboktelersvereniging, Hennie Booysen. Die aanvraag na kwaliteit kon gesien word in die hoë pryse wat behaal is en daar was strawwe kompetisie onder die kopers. Die duurste ram van Sarel Kriek is verkoop vir R41 000 en die duurste ooi is vir R60 000 verkoop deur Hein Booysen aan Barry Strydom van Polokwane.
Die gemiddelde prys van die meer as 111 diere op veiling was R11 993.24.
Wholesome Auctioneers sê dit is een van die beste Kleinveeveilings wat hul tot op hede aangebied het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.