Boewe takel Poskantoor

VAALWATER — Kriminele het Vrydagaand 3 Junie by Vaalwater se Poskantoor ingebreek en die grootste skade is aangerig met die inbraak self en tydens hulle pogings om die kluis oop te kry.
Volgens konst. Simon Makhuvele van Vaalwater SAPD het hulle eintlik hul tyd gemors want daar was slegs R90 kontant in die kluis. Hy sê die polisie het ‘n saak geopen en hulle is besig met die ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
“Dié kriminele rig soveel skade aan en alhoewel hulle nie eintlik ander dinge gesteel het nie, veroorsaak hulle steeds ‘n klomp ongerief en dit maak ons baie boos” sê Maria Putuka, ‘n poskantoorwerker.
Volgens die polisie lyk dit of hierdie inbraak net nog een is in die reeks inbrake wat die afgelope tyd voorgekom het. Die verdagtes mik elke keer net vir die kluis en gebruik ʼn hoekslyper om die kluis oop te sny.
Vaalwater SAPD sê daar is tot op hede nog geen verdagtes in enige van die voorvalle nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.