Bond in Ellisras

Susannah York en Sir Roger Moore 43 jaar gelede by die Ellisras (nou Palm Park) Hotel afgeneem

Elsa van Rooyen
LEPHALALE — In die jaar 1974 staan ‘n jong Moore, Roger Moore, voor die Ellisras Hotel, nié in die gedaante van 007 nie, maar as Rodney “Rod” Slater, ‘n karakter in die fliek Gold wat gegrond is op die boek Gold Mine van Wilbur Smith.
Met Sir Roger Moore se onlangse afsterwe op 23 Mei, op die ouderdom van 89, is hy deur aanhangers op sosiale mediablaaie beskryf as die aantreklikste en beste 007, oftewel Bond, James Bond, van alle tye.
Sir Roger Moore het ook as karakter Simon Templar die hoofrol in die televisiereeks The Saint gespeel.
Die foto van Moore en die aktrise Susannah York by Ellisras Hotel word met die vergunning van Philip de Wet geplaas wat die foto aan Mogol Pos beskikbaar gestel het.
Sy ouers, Philip en Anna de Wet, het destyds die een en enigste hotel in Ellisras besit en die filmspan het daar tuisgegaan met die verfilming naby die dorp by die eertydse Huwi Eiendomme, vandag bekend as die D’Nyala-natuurreservaat.
Die jong Philip, toe ‘n standerd 9 leerling, sê hy onthou dat Moore sy beroemde 007-handtekening in die hotel se kroeg teen ‘n bord aangebring het.
Dankie ook aan Rozaan de Wet Boer wat Mogol Pos op die regte spoor van 007 gesit het.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.