Bone se tyd om te gaan

bone-se-tyd-om-te-gaan

Leoni Kruger
LEPHALALE — Bone Minnaar is in 1993 na Ellisras (Lephalale) gesekondeer vanaf ‘n skool vir gehoorgestremde kinders in Rustenburg om ‘n soortgelyke skool plaaslik te begin. Dit was die begin van die Nelsonskopsentrum vir gehoorgestremde kinders. Later Sedibeng Gekombineerde Skool. Uiteindelik ‘n splinternuwe skoolterrein – die department van basiese onderwys se vlagskip van nasionale spesiale skole.
Maar Vrydag 9 Desember het Bone na 23 jaar die tuig neergelê. Dit wat hy opgebou het is nou in sy opvolgers se hande. Hy beklemtoon egter dat sy passie vir gehoorgestremdes nooit sal weggaan nie en dat hy alles wat hy gedoen het om hierdie skool te laat realiseer wéér sal doen, want om onderwys vir dowe kinders beter te maak is sy doelwit. Sy hart is séér.
Met sy aankoms in Lephalale in 1993 was daar hoegenaamd geen rekords van gehoorgestremde kinders in dié area nie. Hy reken dit is omdat dié kinders meesal nie skool toe gegaan nie, juis as gevolg van hulle gebrek. “Ek het van die een landelike gebied na die ander gery. Shongoane, Seleka, Rietfontein. Noem maar op” sê Bone.
Sy skool het uiteindelik in 1993 vorm aangeneem toe hy twee huise by Eskom gekry het en ses gehoorgestremde kinders in sy soektog kon identifiseer (vandag is daar elke jaar tussen 27 en 30 kinders).
Tessa Pugh, sy “regter- én linkerhand” het in Januarie 1994 by hom aangesluit en saam-saam het hulle die skool gemeubileer en fondse bymekaargemaak. Bone en Tessa het gebaretaal aangeleer en self ingespring om klas te gee. Op daardie stadium was Rosina Mogotlane (die huidige uitvoerende burgemeester van Waterberg Munisipaliteit) ook ‘n onderwyser by die skool en sy het voorgestel dat die skool die naam “Sedibeng” kry (Sedibeng beteken “well of knowledge”). Bone sê hulle het baie staatgemaak op die gemeenskap vir ondersteuning en hy het een keer per maand Polokwane toe gery om kos te gaan haal as deel van ‘n voedselskema.
Intussen het hy aanhoudend briewe geskryf om die skool geregistreer te kry. Hy het ure in Polokwane spandeer om net weer sonder enige vordering terug te keer.
Uiteindelik is die Sedibeng skool vir gehoorgestremdes eers in 1998 geregistreer as volwaardige skool.
“Daar was maar baie groeipyne – so het ek byvoorbeeld eers in 2006 ‘n volwaardige hoofpos gekry” sê hy. In Januarie 2006 is Sedibeng Gekombineerde Skool gestig nadat Elken Privaatskool vir kinders met leerprobleme saamgesmelt het met Sedibeng. Hulle was egter nooit op dieselfde perseel nie en het eintlik afsonderlik gefunksioneer.
Intussen het Bone weer briewe begin skryf vir die Department waar hulle ‘n groter perseel aangevra het.
Hulle is in 2013 ingelig dat daar begin gaan word met die bou van ‘n nuwe skool en die bouery het in Januarie 2014 in alle erns begin.
Bone en “sy kinders” het in Januarie 2016 ingetrek en hy erken dat die aanpassing groot was. “Ons was gewoond daaraan om in ‘n stil omgewing te werk en daar was nooit enige gedragsprobleme nie. Ek roem my nogal daarop dat ons dissipline deur die jare uitstekend was. Die seuns se hemde was altyd ingesteek. Daar was in al hierdie tyd nooit een kind wat gerook het nie. Ons het nooit alkoholprobleme gehad nie. Ek is baie trots daarop” sê hy.
Bone se tyd by die skool is verby. Hy wou trouens al Junie vanjaar uittree, maar toe het al die kinders saamgestaan en op skrif versoek dat hy bly. “Toe hulle die pak papiere aan my oorhandig waarop almal geteken het dat ek moet bly, kon ek nie nee sê nie” sê hy.
Hy gaan dit mis. Sy boodskap aan die mense wat agterbly is dat “saamwerk” baie belangrik is. “Ek wens hulle alles van die beste toe en hulle moet aanhou met die goeie werk” sê hy.
“Dis vir my absoluut prioriteit om dankie te sê vir al die seën deur die jare en dat die Here my deur baie konflik en moeilike tye gedra het. Ek sal altyd lojaal bly teenoor dié kinders”.
Hy rig ook ‘n baie spesiale woord van dank aan Tessa “aan wie ek eintlik verslag gedoen het”. “Haar ondersteuning het my elke dag gedra en ek het baie waardering daarvoor. Dankie ook aan Ina, my wederhelf, vir alles wat sy deur die jare opgevreet het” sê Bone.
Tessa sê hulle het die laaste paar maande geweldig op Bone gesteun en dit is vir hulle baie moeilik dat hy weggaan.
Wie weet, sê Bone, dalk doen hy nog iets na-ure in die lyn van spesiale onderrig vir “sy dowe kinders”. Maar vir eers gaan hy boer.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.