Boogskutsterre wys wat in hulle steek

Hennie en Werdie, boogskutsterre

LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden het die afgelope naweek oor twee dae aan die laaste been van drie van die Africa Bow Hunter-kompetisie ABO te Hartbeespoortdam by Wild Creek deelgeneem. Die punte van al drie bene van die kompetisies word bymekaargetel om die Triple Crown-wenner van die Jaar aan te wys.

Werdie neem die afgelope naweek deel aan die Hunters-afdeling afstandskat tot en met 40 jaarts. Werdie sê dit het vir hom gevoel of hy die eerste dag “nie daar was nie” en hy skiet 180 uit 220. Die tweede dag gaan dit sommer klopdisselboom en Werdie skiet 208 uit 220, weer eens die beste telling vir die kompetisie, maar mis die goud met twee punte en verwerf silwer.

Die goeie nuus is dat Werdie in November as die Triple Crown wenner vir 2019 te Magnum Acrhery aangewys sal word.

Hennie neem deel aan die MSR (Male Senior Release) afstandskat tot en met 45 jaarts. Op die eerste dag skiet Hennie 192 uit 220 en die tweede dag 188 uit 220 en hy behaal ’n goue medalje. Hennie sal ook in November te Magnum Archery as die Triple Crown-wenner van die Jaar in sy afdeling aangewys word.

Andries Uys, wat saam met sy pa Dirk in die wildbedryf werksaam is en naby Steenbokpan woon, het in die beginnersafdeling afstandskat tot en met 30 jaarts ’n derde plek behaal. Hennie sê dit is duidelik dat ’n blink toekoms op dié jong man wag.

Op 21 en 22 September skiet pa en seun teen mekaar in die Bowhunter-kompetisie afstandskat tot en met 60 jaarts te Thabazimbi.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.