Boomjagters

LEPHALALE — Dendrologie, of in gewone taal boomkunde, bestaan reeds van paradystyd af. Dit het al digters soos Hennie Nortjé geïnspireer om ʼn debuutdigbundel oor bome te publiseer. En dan is daar nog die ding van die gewone naam asook die Latynse naam wat meesal met personi-fiëring gepaard gaan.

Die plaaslike Manketti-tak met lede wat ʼn passie en liefde vir bome het, het Saterdag ʼn uitstappie na ʼn boomryke plaas langs die Beautypad, beter bekend as die Moepelpad, onderneem onder die leiding van boommeester Gert du Plessis.

Name soos vratjievrugbliksembos, klokkiespendoring, doringlose sekelbos, basboontjie, tontelhout, koedoebessie, kurkbos/bosdruif, harpuisboom, deur-mekaarbos, groenstamkanniedood, poerabessieboom is onder andere uitgewys en entoesiasties bekyk en bespreek. Sommiges het ook die suurpruimvruggies aangedurf.

Op die Manketti-tak se boomlys is vier nuwe bome vir die eerste keer as groep gesien, onder andere die immergroenranker klipmelkappelkoos (die streeknaam is wildeperske), waar daar ʼn beduidende hoeveelheid “melksap” uitloop wanneer die blaar gekneus word. Dié bykans reuklose ranker se blommetjie is fyn en liggroen maar dra geurige saad wat ongeveer 50 mm in deursnee is. Bobbejane is gewoonlik eerste om by te wees om die sade uit die los dop te eet.

Nóg ʼn eerste was die bergmispel. Volgens Gert ken mense die gewone mispel, maar die bergmispelblaarvorm kan misleidend wees om dit as ʼn mispel te klassifiseer. Die bergmahonie was ook op Manketti se lys van eerstes wat aangeteken is. En wie sou kon dink dat die Moepelpad sy naam verkeerdelik van die vlam van die vlakte gekry het (Pride of the Cape) – ʼn boom wat geglo was ʼn moepelboom is.

Die Moepelpad, of te wel Beautypad, is ʼn verbindingspad tussen die R33 (nuwe Vaalwaterpad) en die R518 (Markenpad) wat by die bekende Tafelkop aansluit.

Die lede van Manketti sê dit was ʼn heerlike ervaring om te kon put uit die kennis van boomkenners Gert du Plessis, dr Willie Barnard, André van Stryp en Vonnie Maree. ʼn Bonus was die verskeidenheid wilde diere, onder andere roofdiere, wat boomkykers op hulle rit deur die plaas gesien het. Die dag is afgesluit met ʼn braai.

Wil jy graag betrokke raak? Skakel 083 609 0181 om deel te word van ʼn entoesiastiese groep mense wat lief is vir bome en die natuur.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.