Boomkykers in pragnatuur

Die boomkykers van die Manketti- tak het op Saterdag, 6 Maart, weer ʼn besonderse uitstappie onderneem.

Die uitstappie was op die Swebeswebe Reservaat, slegs 30 km oos van die dorp.

Die bo-normale reënval van die afgelope twee maande het heelwat paaie verspoel, maar die natuur op die plaas is in ʼn lushof omskep.

Die Kliprivier vloei sterk en pragtige helder water stort oor watervalletjies.

Van die lede het lekker in die poele geswem.

Daar is 94 soorte bome identifiseer waarvan enkele hoogtepunte uitgelig word.

Doringolm: ʼn boom met ʼn dorinkie op die punt van elke blaar. Hulle groei in klowe en word soms ʼn mooi groot boom. Hierdie boom is meer algemeen in die Oos-Kaap, maar skaars hier by ons.

Transvaalse ballonbos: hierdie skaars struik met sy sierlike ballonvrugte geniet beskerming onder die wet op natuurbewaring. Die sade is voorheen as krale gebruik. Die vermoede is dat die kollerige verspreiding van die spesie aangehelp is deur hierdie gebruik. Die teenwoordigheid van hierdie struik naby San-rotskuns in die kloof, dui ook op hierdie moontlike verband.

Kaapse bukshout: ʼn struik naverwant aan die Europese “boxwood” wat in vorms gesnoei word, en in Europa vir heinings gebruik word.

Wanneer die lyste van November 2019 en Maart 2021 gekombineer word, het die lede nou al 106 spesies op Swebeswebe geïdentifiseer.

Pieter Vervoordt en sy vrou Nadine, mede-eienaars van die reservaat, het die boomkykers vervoer met die reservaat se voertuie, en uitgewys watter paaie wel begaanbaar is na die goeie reën.

— Willie Barnard namens Manketti Dendrologiese Vereniging.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.