Boomkykersuitstappie— vreugde ná die reën

Die lede van Manketti-tak

LEPHALALE — Die boomkykers van die Dendrologiese Vereniging se Manketti-tak het Saterdag 16 November ’n besondere uitstappie na die Swebeswebe-reservaat, 30 km oos van Lephalale, onderneem.

Die tydsberekening was perfek, aangesien die goeie reën van die afgelope week die plaas in ’n lushof omskep het. Fonteine uit die berg het die Kliprivier laat vloei, en helder water het oor watervalletjies gestort.  

Daar is 80 soorte bome geïdentifiseer, waarvan enkele hoogtepunte uitgelig word, naamlik: Shakamapruim – alhoewel hierdie boom reeds op vorige uitstappies gesien was, is dit die eerste keer wat die lede hierdie boompie in volle blom sien.

Saalpeultjieboom – hierdie interessante boom met sy dubbele peule wat soos die stiebeuels van ’n saal lyk, was ’n eerste vir al die lede.

Transvaalse ballonbos – hierdie skaars struik met sy sierlike ballonvrugte, geniet beskerming onder die wet op natuurbewaring. Die sade is voorheen as krale gebruik, en die vermoede is dat die kollerige verspreiding van die spesie aangehelp is deur hierdie gewoonte. Die teenwoordigheid van hierdie struik, naby San-rotskuns in die kloof, dui op hierdie moontlike verband.

Kaapse bukshout – ’n struik naverwant aan die Europese “boxwood” wat in vorms gesnoei en in Europa vir heinings gebruik word.

Die reservaatbestuurder, Brad Algar, het die betekenis van die San-rotskuns teen die kranse verduidelik.

Pieter Vervoordt, en sy vrou Nadine, mede-eienaars van die reservaat, het die Manketti-lede vergesel en hulle uitgebreide boomkennis gedeel.

— Dr Willie Barnard namens Manketti Dendrologiese Vereniging

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.