Bossie nou Bul

Schalk Erasmus (22), ʼn oudleerder van Laerskool Bosveld Primary, het Saterdag 26 September vir sy eerste wedstryd as volwaardige Vodacom Blou Bul op Loftus Versveld in Pretoria uitgedraf. En hy het die eerste drie in die wedstryd gedruk!

Die Bulle het dié wedstryd teen die Sharks gewen met ʼn telling van 49-28. Dit is ʼn droom wat waar geword het vir dié jong man.

Schalk, wat grootgeword het op die plaas Rooipan in die Steenbokpan-omgewing, was van 2005 tot 2011 ʼn leerder aan Laerskool Bosveld Primary. Hy was ook hoofseun van dié skool en ʼn Bosvelder in murg en been.

Rugby, of sport oor die algemeen, was altyd vir hom ʼn passie en dit was sy droom om eendag professioneel rugby te speel – soveel so dat sy ma, Elna, vir hom in graad 3 ʼn Blou Bul-koek moes bak!

Schalk het aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gematrikuleer, waarna hy BCom Rekeningkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer het. Die besluit om Stellenbosch toe te gaan, het gekom nadat hy ʼn kontrak deur die Stormers aangebied was. “Dit was ʼn nuwe uitdaging wat ek graag wou aanpak,” sê hy.

Maar sy hart was eintlik by die Bulle…

Hy is verlede jaar genader om by die Bulle aan te sluit en “ek kon nie nee sê om vir hulle te speel nie”.

“Ek sien uit na die nuwe geleentheid en ek gaan dit voluit aanpak. Ons speel vanaf 9 Oktober tot 16 Januarie teen al die Curriebekerspanne sowel as die Griekwas en Pumas.

Schalk se volgende doelwitte is om steeds die Bulle se eerste keuse haker te wees en om “alles te gee”.

“My groot droom is definitief, met die genade van Bo, om vir die Bokke te speel. Dit sal ʼn ongelooflike groot eer wees.”

Sy boodskap aan seuns wat dink aan rugby as ʼn loopbaan het hy die volgende raad: “Glo in jouself, want as jy nie in jouself glo nie, gaan niemand anders nie. Daarmee saam moet jy hard werk, want niks kom vanself nie.”

Só moet ʼn Bul mos praat!

Rugbyhoogtepunte:
▪ Cravenweek (2015 en 2016) en kaptein
in 2016.
▪ SA skole A-span 2016.
▪ Affies eerste span (Wit Bulle) in 2015
en 2016 en kaptein in 2016.
▪ WP o. 19 en o. 21.
▪ SA (Junior Springbokke) o. 20.
▪ Maties eerste span (2019 en 2020).
▪ WP Currie Cup – 2019.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.