Bossie-Opedag ‘n groot dag

Elsabe Powell, Sarie Pretorius, Linda Erasmus, Lizeanne Trichardt en Nikita Botha is die graad 1- onnies
Elsabe Powell, Sarie Pretorius, Linda Erasmus, Lizeanne Trichardt en Nikita Botha is die graad 1- onnies

Leoni Kruger
LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary se Opedag vir volgende jaar se graad een’s is Donderdag 18 Augustus gehou. Die kinders was in groepe opgedeel volgens die kleuterskool waar hulle tans is en hulle kon nie wag om al die verrassings op die tafel voor hulle te bekyk en uit te toets nie. Wat dié geleentheid nog meer spesiaal gemaak het, is dat die Bossies ook vanjaar hulle 30ste bestaansjaar vier.
Louwtjie Pretorius, skoolhoof, het al die nuwe gesiggies en ouers verwelkom en gesê dit is lekker om almal by die skool te hê. “Ons skool is vanjaar 30 jaar oud en ons vier al die hele jaar lank fees” het hy gesê. “Julle is vandag ons eregaste” het hy verder gesê.
Hy het die ouers belowe dat die onderwysers by Laerskool Bosveld Primary die leerders met sensitiwiteit, dog met fermheid hanteer. “Ons wil die wonder van elke kind se menswees tot volle potensiaal ontwikkel” het hy verduidelik.
Die skool se waardesisteem is in eenvoudige taal aan die kinders verduidelik. “Die waardesisteem is dinge wat ons doen of nie moet doen nie om seker te maak die skool is ‘n lekker en veilige omgewing vir almal wat hier is”.
Die verskillende leerareas is bespreek en die kinders het grootoog geluister na al die verskillende tipes sport en kultuur wat aangebied word, maar ook dat die akademie baie belangrik is vir die Bossies. “Ons is in 2014 aangewys as die heel beste skool in die hele Waterbergdistrik” het ‘n trotse Pretorius vertel. Hy het ook gesê dat dit vir almal by Laerskool Bosveld Primary belangrik is dat hulle gebalansseerde kinders die “grootmenswêreld” instuur wanneer hulle graad 7 voltooi.
‘n Poppekas het die “eregaste” laat skaterlag, om nie eens te praat van Bessie en Bossie wat die verjaarsdagkoek aan Pretorius oorhandig het nie.
Hierna kon almal met oorgawe deelneem aan alles wat op hulle tafels was, terwyl die ouers kon smul aan heerlike gevulde pannekoeke en drinkgoed. Die gaste het ook die geleentheid gehad om die skoolterrein en klaskamers van nader te leer ken.
Pretorius bedank almal wat die groot dag bygewoon het en in besonder vir SANLAM vir hulle borgskap.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.