Bossieleerlingraadinstelling

Die hoofleiers en portefeuljevoorsitters saam met Louwtjie Pretorius. V.l.n.r. is Nika, CW, Yentl, Oabile, Wilmi en Barnabas

LEPHALALE — Laerskool Bosveld Primary het Maandagaand 28 Oktober hul jaarlikse Leerlingraadinstelling in die skoolsaal gehou met Charlie Brandt as aankondiger. Leane Snyman, hoofdogter 2019, het die verrigtinge geopen.

Dit was ’n besondere aand vir die nuwe leerlingraad en hul ouers. Louwtjie Pretorius, skoolhoof, het in sy toespraak gesê dit is ’n groot voorreg om elkeen by dié prestige geleentheid te verwelkom. Hy het dit beklemtoon dat opvoeding ’n groot rol speel in die leiers se lewens en gesê dat daar uitdagings op hulle pad gaan kom wat goeie leierskap gaan vereis. Pretorius het gesê hy glo dat hulle met bereidwilligheid en dapperheid van alle geleenthede die beste sal maak.

Die instellingseremonie waarin elke leier in sy of haar portefeuljegroep aangewys is was aanskoulik. Nadat die leier bevestig het dat hy of sy bereid is om as leier te dien, het elkeen ’n sertifikaat ontvang en daarna die geleentheid gekry om ’n kers aan te steek en hul instelling met ’n handtekening te verseël. Daarna kon die trotse ouers hul kinders se leerlingraadbalkies aansteek.

Die seremonie is gekenmerk deur aanhalings van bekende persone wêreldwyd met ’n persoonlike boodskap daarby vir elke leier, asook elkeen se visie vir die groot taak wat op hulle wag.

Leiers in die Akademiese portefeulje is Elmarie Cloete, Yentl Lemboe, Leago Nyaka, CW Sparks, Orehile Tlale, Alexa Watkins en Joshua Young. Leiers in die Sportportefeulje is Arno Besseling, Zoey Elenis, Reaboka Maremane, Barnabas Nyamakupe, Franco Oberholzer, Onalenna Rankapole, Rethabile Seabela en Wikus van Schalkwyk. Kultuurportefeuljeleiers is Manja Labuchagne, Khumo Majadibodu, Nia Senosky, Elise Uijs, Lene van der Merwe, Wilmi van Rooyen en André Wagener.

Portefeulje vir Funksies, Fondse en Omgee is Tina-Mari de Kock, Maryke Gerber, Oabile Mabotja, Florence Mbako, Kemo Mocheko, Elané Seymour en Nika Snyman.

Die volgende leerders is as voorsitters aangewys in die portefeuljegroepe Akademie, Sportaktiwiteite, Kultuuraktiwiteite en Funksies, Fondse en Omgee. Hulle is onderskeidelik Yentl Lembo, Barnabas Nyamakupe, Wilmi van Rooyen en Oabile Mabotja.

Die hoogtepunt van die aand was die aankondiging van die hoofleiers. Pretorius het gesê dat die kompetisie vanjaar geweldig sterk was aangesien dit ’n groep leiers is wat elkeen oor besondere kwaliteite beskik.

CW Sparks is as hoofseun aangewys. Hy het gesê dat dit vir hom ’n voorreg is om die hoofseun vir 2020 by Laerskool Bosveld Primary te wees en dat hy deur die jare altyd opgekyk het na die vorige hoofseuns. Sy afsluitingswoorde was: “Ek gaan poog om te lei deur voorbeeld.”

Nika Snyman is aangewys as hoofdogter vir 2020 en sy het gesê dat sy baie trots is op die skool, die onderwysers en die Bossieleerlinge.

Die leerlingraadvoogde Meraai Grove, Sonja van Deventer, Charlie Brandt en Zirk Buys wat die taak het om die nuwe leiers by te staan het ook elkeen die geleentheid gehad om ’n kers op te steek.

Brandt het Divan Gerber, hoofseun 2019, en Leane Snyman, hoofdogter 2019, bedank vir hul goeie leierskap en voorbeeld regdeur die jaar waarna Divan die verrigtinge afgesluit met gebed.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.