Bosveldgasvryheid vir ’n goeie doel

H McCabe, M Muller, S Pienaar, J Nel en het die besondere dag baie geniet

LEPHALALE — Die Bosveld word onder andere geken aan die gas-vryheid van die mense. Hierdie gasvryheid is Saterdag 28 September weer bevestig tydens die prys-uitdeling van die jaarlikse SANParke Ereveldwagters, Waterbergstreek, se gholfdag.

Besoekers van Pretoria het genoem dat hulle verstom was oor die inwoners se vriendelikheid op en van die baan af, en dat hulle van nou af elke jaar gaan deurry om vir ’n dag in Lephalale gholf te speel.

Die doel van Saterdag se gholfdag was om fondse in te samel vir die beskerming van die Waterberg se natuurerfenis.

Gaste was reeds met aankoms bederf met ’n goedvoelpakkie en alhoewel die voëltjies en arende sommige spelers ontwyk het, het die wenner vir die dag, Kobie Schoeman, weggestap met ’n totaal van 42 punte. Die naaswenner, Craig Hennings, het geëindig met 39 punte.

Die dame wat die hele dag geloop het is alom geprys vir haar eerste poging om gholf te speel. Sy het ’n paar sokkies en ’n kers vir haar dapper poging ontvang.

’n Hele paar manne was hoog in hulle skik met die bome wat hulle as pryse gewen het – dit was immers ‘n geleentheid oor en vir die natuur.

Daar is later die dag gesellig gekuier, en na ’n smaaklike aandete was almal gereed om hulle beursies oop te maak vir die veiling. Gert (Gif) du Plessis, het homself baie goed van sy taak gekwyt om die manne se arms te draai vir ’n laaste paar sente.

Die span bedank almal wat betrokke was by die reëlings en veral die borge, waarsonder só ’n geleentheid nie ’n sukses kan wees nie.

“Dankie Lephalale!”

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.