Bosveldstreek VLU — 22ste konferensie

Die wentak is natuurlik die Beauty’s. Hulle is agter v.l.n.r: Estie Nortje, Marie Lottering, Altie van der Linde, Annalise Thornhill, Adele Engelbrecht, Marita Folkus, Ursula Zietsman; middel: Maritsa Jacobs, Mara Lottering, Petra Ortner (voorsitter) Leanda Le Cornu (VLU Noord Presidente), Desiree Kruss en voor: Corrie Kruger

STEENBOKPAN — Die VLU Bosveldstreek se 22ste konferensie is op 7 en 8 Maart in Steenbokpan gehou. Die lede van Steenbokpan VLU het moeite gedoen om die geleentheid onvergeetlik te maak en volgens almal wat dit bygewoon het, was al die reëlings voortreflik.
Daar is ook hard gewerk aan al die uitstallings van 2016 se artikels wat deur die lede gemaak en beoordeel is, asook uitstallings van 2017 se Tema, Projek, Studierigting, Skrywer, Kunstenaar, Persoonlikheid en natuurlik die Boom van die Jaar.
Pastoor Johann Young open die konferensie op 7 Maart op gepaste wyse uit ‘n gedeelte in Exodus 4, waarna almal hartlik verwelkom word deur gasvrou Joan Beukes van Steenbokpan.
Die gaste, Ann Nel,  Marita Eckard, Lilian Weber, Annatjie Dreyer, Wilma van den Heever, en Joan Beukes word deur Ria Strydom bekendgestel.
‘n Spesiale huldeblyk word gebring aan Baby van Niekerk (Beauty-tak) wat baie vir die VLU beteken het. Petra Ortner en Desiree Kruss steek ‘n kers aan ter ere aan almal wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het.
Groeteboodskappe word oorgedra deur Lilian Weber en Tharina Rössel in haar afwesigheid.
Die vergadering word amptelik geopen deur Leanda Le Cornu, president VLU Noord. 
Tania Kaiser tree op as spreker vir die dag met die tema “hoop”.
Tania, wat in 2013 aangewys was as Wildboer van die Jaar, deel ‘n stukkie van haar lewensverhaal en vertel dat haar man, Christo, in 2007 dood is tydens ‘n olifantjag in Botswana, haar dogters was toe twee, ses en nege jaar oud, maar ten spyte daarvan dat sy toe ‘n enkelma van drie dogters is, besluit sy om voort te gaan met hulle onderneming, Unico Safaris. Tania se boodskap is dat mens moet opkyk na God soos ‘n sebra se vul, wanneer dié gebore word, sonder die ooi hulle af en al wat die vul dan vir die eerste ruk sien is net sy ma. Só moet ons verhouding met God wees, sê sy.
Die prysuitdeling volg hierna en die bestuur word almal herverkies in hul amp. Hulle is Maritsa Jacobs (streekskakel), Ilana Venter (Vise Tambotiekring) en Ilna Schutte (Vise Hardekoolkring).
Die Beauty VLU-tak se vroue is baie trots daarop dat hulle as wentak aangewys is met die algehele hoogste punte van 3 210!
Altie van der Linde het geblom van trots oor al haar prestasies. Sy het die hoogste puntetotaal vir Streeksartikels sowel as Provinsieartikels behaal, waarna sy dus ook aangewys is as die lid met die algehele hoogste punte in die Bosveldstreek – 1 184 punte in 165 afdelings! Altie ontvang onder andere sertifikate vir borduurwerk, fotografie, masjienwerk, gebak, skilder en ’n spesiale prys vir hekelwerk. Sy word ook aangewys as die topskakelbeampte vir die Bosveldstreek.
Ria Strydom van VLU Ellisras en Bosveld Streeksvoorsitster kry die hoogste punte in gebak en Bettie Pistorius, ook van Ellisras VLU, ontvang die blombeker vir die meeste punte behaal in blommerangskikking. Sy wen ook ‘n eerste plek in blomme (gevorderd).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.